Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kamermusiekfees bied gratis konsert aan
Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees se feeskonsertorkes in 2018.

Die 16de Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) se feeskonsertorkes gaan die verhoog in die konservatorium se Endler-saal tydelik verruil vir dié in ’n plaaslike laerskool, om ’n reuse-simfoniekonsert gratis in Jamestown, Stellenbosch, aan te bied.

Die feeskonsertorkes, wat uit meer as 100 lede bestaan, gaan hulleself eers op 13 Julie in ’n konsert in die Endler-saal opwarm, voordat hulle dit ’n dag later gratis by die Laerskool Weber Gedenk NGK gaan herhaal.

Prof. Nina Schumann, die SIKMF se medestigter en tans artistieke direkteur, sê die gratis konsert is ’n belangrike inskrywing op die feesprogram.

“Die aanvanklike idee van die fees was om mense na Stellenbosch te bring, maar daar is baie gemeenskappe en veral kinders hier wat nie die konserte kan bywoon nie, daarom vat ons nou die konsert na hulle en swaai die deure gratis vir hulle oop.”

Pedro Carneiro, ’n perkussiespeler en komponis van Portugal, gaan die orkes dirigeer en sal in die gratis konsert ook ’n demonstrasie van die instrumente en al die instrumentgroepe in die orkes doen vir veral jonk en oud wat nog nie ’n simfoniekonsert bygewoon het nie.

(...) daar is baie gemeenskappe en veral kinders hier wat nie die konserte kan bywoon nie, daarom vat ons nou die konsert na hulle en swaai die deure gratis vir hulle oop.
Prof. Nina Schumann, artistieke direkteur van die SIKMF

“Die konsert is nie net vir die gemeenskap van Jamestown nie – enigiemand kan dit bywoon,” sê Schumann.

“Die musiekdepartement het ’n lang verbintenis met Jamestown, so dit het net vir ons sin gemaak om dit daar te hou.”

Die program sluit die Rus Alexander Borodin se “In the Steppes of Central Asia” en sy “Polovtsian Dances”, die Fransman Gabriel Fauré se “Pelléas et Mélisande”, sy landgenoot Camille Saint-Saëns se “Danse Macabre”, en uittreksels uit die Duitser Ludwig von Beethoven se “Egmont” in.

Die sopraan Janel Speelman is die solis in die Beethoven-werk.

  • Die SIKMF se feeskonsertorkes hou op 13 Julie om 20:00 ’n konsert in die konservatorium se Endler-saal op Stellenbosch. Kaartjies teen R150 (R110 vir pensionarisse en studente) is by Computicket beskikbaar.
  • Die konsert word gratis op 14 Julie om 12:00 by die Laerskool Weber Gedenk NGK herhaal. Toegang is gratis en sitplekke is onbespreek. Skakel Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za vir meer inligting.
  • Die SIKMF se feessimfonieorkes hou twee konserte: Op 12 Julie om 20:00 is musiek deur Van Dijk, Schnittke en Saint-Saëns te hoor. Op 14 Julie om 16:30 is Van Dijk, Sibelius, Tomasi en Saint-Saëns op die program. Kaartjies teen R150 (R110 vir pensionarisse en studente) is by Computicket beskikbaar.
Meer oor:  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.