Die bestuur van die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees (SICMF) het Donderdag aangekondig dat vanjaar se fees weens die Covid-19-pandemie van die baan is.
Die fees is ook verlede jaar weens die pandemie geskrap.
“Terwyl talle daarna uitgesien het dat die 17de SICMF vanjaar ná die verwoesting van die pandemie soos ’n feniks uit die as sou verrys, is dit ’n feit dat die pandemie nog lank nie verby is nie,” lui ’n mediaverklaring.
Peter Martens, die fees se direkteur, sê in die verklaring daar bestaan tans nie ’n vaste tydlyn teen wanneer gehore weer regstreekse vertonings sal kan bywoon nie.
“Hoewel ons gehoop het dat die wêreldwye situasie teen Julie/Augustus beter daarna sou uitsien, kan ons eenvoudig nie ’n veilige omgewing vir meer as 300 studente verseker nie, om nie eens te praat van die tydrowende kwarantyn wat ons internasionale fakulteit sou moes aandurf nie.”
Prof. Nina Schumann, die fees se artistieke direkteur, is dit in die verklaring met hom eens.
“Ons is werklik platgeslaan oor die besluit, maar glo julle sal verstaan. Ek bedank julle vir jul volgehoue ondersteuning van die fees en hoop werklik ons kan met ’n knal in 2022 terugkeer.”
Die fees sou aanvanklik vanjaar van 28 Julie tot 6 Augustus oudergewoonte weer in die Konservatorium op Stellenbosch aangebied word. Die feesbestuur het in Desember bekend gemaak dat hulle dié datums om logistieke redes en ’n aangepaste universiteitskalender eerder van 26 Julie tot 4 Augustus skuif, voordat hulle dié datums ook nou moes skrap.
Dit is nog nie bekend wanneer die fees in 2022 aangebied sal word nie.
Studente wat vir vanjaar se fees ingeskryf het, kan ’n e-pos aan Brent Reynolds na brent@sun.ac.za stuur om ’n terugbetaling te eis.
Meer inligting sal ook later op www.sicmf.co.za en die Facebook-blad www.facebook.com/sicmf geplaas word.
– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier