Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kenned sing in Vrystaat se ‘Paasoratorium’
Lynelle Kenned

Lynelle Kenned, bekende televisie-aanbieder en veelsydige Kaapse sanger, maak haar buiging in die Vrystaat wanneer sy as sopraansolis in JS Bach se Paasoratorium optree.

Die Vrystaatse simfonieorkes (FSSO) voer dié werk ter viering van die Pase onder die stok van sy artistieke direkteur Alexander Fokkens uit.

Teresa de Wit (alt), Lance Phillip (tenoor) en Thesele Kemane (bas) is die ander soliste en die Katedraalsangers vorm die koor. Dit bestaan hoofsaaklik uit studente en personeellede van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

In teenstelling met Bach se Kersfeesoratorium het die Paasoratorium nie ’n verteller nie. Dié teks word tussen die vier sangers verdeel.

Teresa de Wit

Die tenoorstem verteenwoordig Simon Petrus, die apostel Johannes se woorde word deur die basstem gesing en die vrouestemme is dié van Maria Magdalena (alt) en “die ander Maria” (sopraan).

Bach het die werk in 1725 gekomponeer en dit gegrond op ’n sekulêre kantate wat intussen verlore geraak het, maar waarvan die libretto behoue gebly het.

Lynelle Kenned is ’n aktrise, seremoniemeester en is ook ’n bekende gesig op Afrikaanse TV, maar haar groot liefde is sang. Sy het aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool studeer en word gereeld in musiekproduksies op Kaapse verhoë gesien.

Van die rolle wat sy vertolk het, is in operas van Handel, Mozart, Puccini en Rossini tot Janacek. In die musiekspel West Side Story saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes is sy vir haar sprankelende vertolking van Maria met ’n Fleur du Cap bekroon.

Lance Phillip

Kenned was die naaswenner in die TV-program Top Billing se soektog na ’n aanbieder, wat haar die nodige blootstelling gegee het om as ’n Pasella-aanbieder opgeraap te word.

Sy is ook betrokke by ’n Via-program wat nog uitgesaai moet word.

Teresa de Wit, ’n bekende op Bloemfonteinse verhoë, het haar opera-opleiding in die Kaapstadse Opera-ateljee begin waarna sy haar by die nou ontbinde Black Tie-ensemble in Pretoria aangesluit het.

Sy het in meer as ’n dekade in ’n menigte operas gesing, onder meer Carmen, La Traviata, The Barber of Seville, Le Nozze di Figaro, Cosi fan Tutte, Cavalleria Rusticana, Rigoletto en La Cenerentola.

In Bloemfontein het sy reeds in verskeie oratoria opgetree en verlede jaar ook in Lehár se Merry Widow wat deur die Odeion Skool vir Musiek aangebied is.

Lance Phillip het sy BMus-graad met komposisie as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria verwerf en ’n meestersgraad in koordirigeerwerk aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Hy het die Cape Consort help stig en tree nog gereeld as genooide kunstenaar saam met hulle op. Sy dirigeerwerk is meestal voor kore in Bloemfontein en Pretoria. Phillip is ’n dosent aan die UV se Odeion Skool vir Musiek (OSM).

Thesele Kemane se opleiding het aan die UK begin, is voortgesit aan die Juilliard-musiekskool in New York en aan Frankfurt-opera in Duitsland se ateljee vir jong sangers.

Hy het ondervinding in talle operas opgedoen voordat hy verlede jaar as dosent aan die OSM se sangdepartement aangestel is.

’n Borgskap van die Nasionale Loterykommissie maak die oratoriumuitvoering moontlik.

* 19 April om 18:00 in die Anglikaanse Katedraal, St. Georgestraat, Bloemfontein. Toegang is gratis.

Meer oor:  Musiek  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.