Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kommer oor voorgenome nasionale simfonieorkes

Ná die bekendmaking dat ’n nasionale orkes en operageselskap vir Suid-Afrika gestig gaan word, het Elretha Britz by hoofde van bestaande orkeste uitgevind hoe hulle daaroor voel.

Nasionale orkes
Dirigent Perry So repeteer onlangs saam met die KFO en lede van jeugorkes. Die opleidingsprogramme gaan die eerste geraak word indien die orkes sy bedrywighede moet staak of ontbind.

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, se aankondiging dat ’n nasionale simfonieorkes en operageselskap vir Suid-Afrika op die been gebring gaan word, was soos ’n skoot koue water vir die bestuur van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).

Die ontsteltenis is nie oor die koms van ’n nasionale orkes nie, maar oor die gevolglike ontneming van die jaarlikse regstreekse regeringsbefondsing vir die KFO.

Of die twee ander voltydse professionele orkeste, die Johannesburgse en KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkeste (JPO en KZNPO) ook voortaan geen vaste jaarlikse toekenning van die regering gaan ontvang nie, kon nie vasgestel word nie, aangesien Bongani Tembe, uitvoerende hoof van albei orkeste, nie beskikbaar was nie.

Hlengiwe Buthelezi, sy assistent, sê hy is in die buiteland en daarna met sy jaarlikse verlof en sal dus nie kommentaar kan lewer nie.

Hoewel daar nog vele onbeantwoorde vrae oor die voorgenome nasionale simfonieorkes is, meen orkeshoofde dit is nie volhoubaar as die groter geheel van ook musiekopleiding in ag geneem word nie.

Gaan dit ’n reisende orkes wees? Indien nie, waar sal dit gesetel wees? Sal die lede opleiding verskaf soos daar van die bestaande orkeste verwag word?

Wat wel verwag word as die orkes gereeld reis, is astronomiese bykomende administratiewe en logistieke koste. Dit sal ’n verkwisting van geld wees wat eerder vir die kunstenaars of die bestaande orkeste betaal kan word, wat juis spartel om kop bo water te hou.

Louis Heyneman, uitvoerende hoof van die KFO, sê ná ’n vyf maande lange stryd om inligting van die nasionale departement van kuns en kultuur te kry, is eindelik kennis gegee dat ’n laaste jaarlikse bydrae van R7 miljoen in twee paaiemente gelewer sal word, 60% vanjaar en 40% volgende jaar.

Volgens ’n betroubare bron ontvang die JPO en KZNPO elk sowat R10 miljoen per jaar van die regering. Of dit ook gestaak sal word, kon nie vasgestel word nie.

Mthethwa se uitgangspunt is dat provinsiale regerings en munisipaliteite die plaaslike orkeste geldelik moet ondersteun.

Heyneman sê ’n vergadering sal onverwyld belê word om die moontlikheid van meer befondsing van dié regering te bespreek.

Of provinsies en munisipaliteite, wat reeds onder erge finansiële en bestuursdruk is, ’n weg sal vind om simfonieorkeste te ondersteun, is egter te betwyfel, meen Fredrick Fourie, raadsvoorsitter van die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO).

Die KFO ontvang R3 miljoen van die Wes-Kaapse regering en die Kaapstad-metro, wat egter net in 10% van sy jaarlikse begroting van R30 miljoen voorsien. Sowat 20% word uit kaartjieverkope verkry en sowat 50% van private skenkers.

Die FSSO, ’n deeltydse professionele orkes met ’n sterk opleidingskomponent, ontvang geen vaste jaarlikse bydrae van die regering nie. Die orkes moet, wanneer daar geleentheid vir aansoeke is, spesiaal aansoek doen om ad hoc-bydraes van die Nasionale Lotery en die Nasionale Kunsteraad (NAC). Dit skep beduidende onsekerheid.

Nasionale orkes
Die Kaapstadse Filharmoniese orkes tydens een van sy jongste uitvoerings. Foto: Alain Proust.

Fourie sê dit het drie jaar gelede gelei tot die stigting van die FSSO se Simfonie gee Lewe-projek, wat poog om meer deurlopende private bydraes te verseker en beter beplanning moontlik te maak.

“Dit is nie genoeg om selfs ’n deeltydse orkes soos die FSSO aan die gang te hou nie. Soos vir alle orkeste oor die wêreld heen is regeringsbefondsing noodsaaklik, verkieslik in ’n model gegrond op ’n vennootskap tussen private inisiatiewe en owerheidsteun,” sê Fourie.

Die KFO is sedert 2000 verskeie kere geherstruktureer “om by ’n veranderende Suid-Afrika aan te pas”, sê Heyneman. Die ledetal is van 80 tot 50 verminder, wat die gebruik van ad hoc-spelers in die vier simfonieseisoene noodsaak.

Die permanente spelers gee dus 120 konserte (repetisies uitgesluit) per jaar sonder rotasie soos in ander orkeste. Die bestuurspan is aansienlik kleiner as vir soortgelyke orkeste, terwyl besoekende musici bereid is om, vanweë die orkes se goeie reputasie, vir ’n klein gedeelte van hul normale tarief te speel.

As verder ingekort word, sal gehalte en geleenthede vir veral opkomende musici in die slag bly.

Fourie en Heyneman stem saam dat ’n simfonieorkes se taak in Suid-Afrika veel meer omvangryk as net konsertuitvoerings is. Die orkeste en hul lede verskaf deurlopende onderrig en opleiding aan ’n nuwe generasie van musici, waarvan verreweg die meeste in die townships is.

Hulle verskaf ook werk aan musici en musiekonderwysers en identifiseer en ontwikkel begaafde musici (operasangers ingesluit) sodat hulle op wêreldverhoë kan optree. Daarby vestig hulle ’n musiekkultuur wat broodnodig is vir geestesverryking en gemeenskapsontwikkeling in ’n land soos Suid-Afrika.

Die FSSO en die KFO het albei jeugorkeste onder hul vlerk en lewer ongeëwenaarde werk in ’n uitgebreide opleidingsprogram soos die KFO se Masidlale wat van Khayelitsha tot Atlantis aangebied word.

In Bloemfontein bestuur die FSSO ’n musiekopvoedkundige program, wat vir verskeie leerlinge en studente loopbaangeleenthede skep.

Albei die orkeshoofde is dit eens dat regeringsgeld, hetsy nasionaal, provinsiaal of munisipaal, onontbeerlik is vir die voortbestaan van ’n simfonieorkes en dat ’n simfonieorkes onontbeerlik is vir gemeenskappe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.