Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KFO kry reddingsboei van R5 m. van Kaapse metro
Die Kaapstad-metro het hom tot die ondersteuning van die kunste in die stad verbind. By die geleentheid was (van links) Derek Auret (KFO), Louis Heyneman (KFO), Marlene le Roux (Kunstekaap), Matthew Wild (Kaapstad Opera), Zahid Badroodien (Kaapstad-metro), Africa Melane (Kaapstad Opera) en Beth Jeffery (Baxter-teatersentrum).

Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) is uit ’n finansiële verknorsing gered nadat dit befondsing van R5 miljoen by die Kaapstad-metro gekry het.

Die koffers van Kaapstad Opera en Kaapstad Ballet het met R3 miljoen elk en die Kunstekaap en die Baxter-teatersentrum met R2 miljoen elk ook ’n goeie hupstoot gekry.

Louis Heyneman, uitvoerende hoof van die KFO, sê hy is “verlig” oor die nuus, omdat Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, die KFO se begroting vir vanjaar met R10 miljoen gesny het om ’n nasionale orkes op die been te bring.

“Ons is verheug oor die stad se bydrae,” sê hy. “Dit is absoluut noodsaaklik dat ons in die kunste belê; daarsonder kan ons nie oorleef nie.

“Musiek is ’n belangrike en noodsaaklike deel van Kaapstad, tereg ’n wêreldstad. Ons belangrikste mandaat is om die konsertkultuur in die stad lewendig te hou, en met befondsing is dit presies wat ons kan vermag – dis hoekom ons so verlig voel.”

Volgens Heyneman sal die metro die KFO tot 2021 ondersteun, maar hy sê die KFO sal steeds in die moeilikheid wees as hulle nie ook binnekort finansiële steun van die provinsiale regering kry nie.

“Sonder ’n ruim bydrae van die provinsie gaan die orkes nie volhoubaar wees nie.”

Sonder ’n ruim bydrae van die provinsie gaan die (KFO) nie volhoubaar wees nie.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake en gesondheid van die Kaapstad-metro, het in ’n verklaring gesê “die befondsing sal die organisasies help om die goeie werk voort te sit wat hulle met gehoorontwikkeling en opvoeding doen. Die kunste help ons om ons kultuur en erfenis te bewaar, daarom is dit vir die Kaapstad-metro ’n eer om daarin te belê.”

Beth Jeffery, administrateur van fondsinsameling van die Baxter-teatersentrum, sê sy is “ongelooflik dankbaar” vir die metro se oop beursie.

“Dit is reeds die derde jaar wat ons geld van die stad kry. Ons het ’n wonderlike verhouding met hulle opgebou.”

Sy sê die finansiële steun maak onder meer produksies, meesterklasse en die Baxter se Platform for Special Talent-projek moontlik, wat ondersteuning aan veral jong gegradueerdes in die uitvoerende kunste bied.

“David Kramer is besig om ’n meesterklas oor musiekspele aan te bied. Dit is so skaars om goeie, oorspronklike musiekspele in Suid-Afrika te kry. Sonder dié befondsing sou David se meesterklas nie moontlik wees nie,” sê Jeffery.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.