Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KFO st(r)oom voort met konserte in Desember

Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) st(r)oom nou so aktief voort dat hulle uitvoerings gereed het wat die musiekpubliek tot diep in Desember luisterplesier sal verskaf.

Die laaste van die “Simfoniese meesterstukke in miniatuur” is van 26 tot 30 November aanlyn beskikbaar en terselfdertyd ’n jolige konsert deur die KFO en die Kaapstadse Jeugfilharmonie (KFJO). (Sien kassie hierby).

Eléna Monvoisin, die tienjarige hobospeler, tree in die jeugmusiekfees op.

In die miniatuurmeesterstukke-uitvoering kan die jong klarinetspeler Férrol-Jon Davids as solis in Mozart se bekende Klarinetconcerto saam met ’n strykkwintet gehoor word.

Die tweede werk in die uitvoering is Brahms se Klavierkwartet nr. 1 in G majeur met Nina Schumann (klavier), Philip Martens (viool), Azra Isaacs (altviool) en Peter Martens (tjello).

Bespreek by Quicket.

Kubersimfonieë

Die dag toe die inperkingsmaatreëls sodanig verslap is dat die KFO sy repetisielokaal in die Kunstekaap kon betrek, het hulle onder leiding van die KFO se hoofgasdirigent, Bernhard Gueller, aan die werk gespring om twee simfonieprogramme, getiteld “Kubersimfonieë”, gereed te kry.

Dit is ongelukkig steeds uitvoerings sonder gehore, maar die opnames is darem nie meer ’n tegnologiese samevoeging van elke speler in sy eie tuiste nie.

Van 3 tot 7 Desember kan aanlyn geluister word na die Stellenbosse tjellis Peter Martens in Elgar se meesterlike Tjelloconcerto, asook Schubert se Simfonie nr. 5 in B-mol majeur. Schubert het die werk vir ’n kleinerige orkes geskryf en geen klarinette, trompette en timpani ingesluit nie.

Die konsert word opgedra aan die Russiese tjellis Alexander Buzlov, wat onlangs op 37-jarige ouderdom oorlede is en twee jaar gelede Lalo se Tjelloconcerto saam met die KFO uitgevoer het. Hy het gereeld aan die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees deelgeneem en is bekend en geliefd onder plaaslike musiekliefhebbers.

Van 12 tot 16 Desember word ’n Mozart-program aangebied met onder meer sy Concerto vir twee klaviere in E-mol majeur. Die bekende Kaapse pianiste Albie van Schalkwyk en Francois du Toit vorm die duo. Hier is geen eerste en tweede part ter sprake nie. Mozart het die musiek eweredig tussen die twee spelers versprei.

Peter Martens voer Elgar se Tjelloconcerto saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes onder die dirigeerstok van Bernhard Gueller uit.

Van Schalkwyk was tot sy aftrede drie jaar gelede ’n dosent aan die Musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad, waaraan Du Toit steeds verbonde is. Albei tree gereeld as soliste en kamermusici op.

Die uitvoering begin met die ouverture tot die opera Così fan tutte en sluit af met Mozart se Simfonie nr. 39 in E-mol majeur.

’n Vermoede bestaan dat Mozart sy laaste drie simfonieë, nr. 39 tot 41, as ’n eenheid wou skryf. Simfonie nr. 39 het byvoorbeeld ’n majestueuse inleiding met fanfares deur die koperblasers, maar geen koda nie.

Ballet op die planke

Diegene wat smag na lewende uitvoerings kan van 10 tot 12 Desember die Kaapstadse Stadsballet in die Kunstekaap beleef. Streng Covid-19-regulasies sal geld.

Danse op musiek van Tsjaikofski, Massenet, Barber, Satie, Delibes en Mahler word onder meer in die uur lange program uitgevoer. George Balanchine se Serenade is ook op die program.

Die hoogtepunt is Moon Behind the Clouds, ’n suite wat deur sewe Suid-Afrikaanse choreograwe, insluitend die befaamde Veronica Paper, in die inperkingstyd geskep is.

Brandon Phillips lei die KFO. Die uitvoering word opgedra aan die ontslape David Bloomberg, ’n kampvegter en filantroop vir die kunste en gewese lid van die KFO-raad.

Die kaartjies wissel tussen R300 en R500 by Computicket.

Jeugmusiekfees

Dié jaarlikse fees, ’n vertoonkas vir hoogs talentvolle jong musici, word vanjaar die 49ste keer gehou en hoewel dit hierdie keer anders aangebied word, sal die talent van die jongelinge steeds die asem wegblaas.

Twee oudlede van die KFJO is onder die nege soliste, die klarinetspeler Cameron Williams (23) en die altviolis Stephanie Lawrenson (23).

Liam Slabbert ’n fagotspeler wat steeds lid van die KFJO is en die enigste ander stryker is Nicola McLachlan (21).

Vier pianiste tree op – Daniel Brodie (20), Jacqueline Choi (18), Rosemarie Lemmer (22) en die gesiggestremde Ying-Shan Tseng (18).

Die jongste deelnemer is die tienjarige Eléna Monvoisin, wat klavier en hobo speel, maar in dié konsert haar slag net op die houtblaasinstrument sal wys. Sy sal later in Desember ook in die KFO se gemeenskapskonsert te sien wees, waar sy hobo en klavier speel.

Brandon Phillips lei die KFO.

Die jeugmusiekfees word op 13 Desember van 15:00 tot 17:00 op die radiostasie FMR se YouTube-platform uitgesaai en op dieselfde dag ook op die Kunstekaap se YouTube-platform. Dit is gratis.

Kassie

’n Jolige etensuurkonsert deur die KFO en die KFJO word op 24 November om 13:00 gratis op sosialemedia-platforms uitgesaai.

Ná verskeie weke se mentorsessies deur KFO-musici het die twee orkeste saamgespan vir Rimski-Korsakof se opwindende Capriccio Espagnol en Dvorak se Slawiese danse, op. 46, nr 1.

Hierby het hulle nog gesellige werke gevoeg – Artie Shaw se Klarinetconcerto met David Cyster as solis, Katsjatoerjan se “Wals” met die Zip Zap-sirkuswiel, die Queen-lied “Barcelona” en Master KG se “Jerusalema” wat die hele wêreld aan die dans gekry het.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.