Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KFO verdryf koue met Brahms, Tsjaikofski
Die pianis Luis Magalhães. Sy uitvoering van Tsjaikofski se Klavierconcerto nr. 1 kan tot Maandag op die Quicket-platform gestroom word.

Terugvoering ná die vorige simfoniekonsert deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) met die Bloemfonteinse tjellis Anmari van der Westhuizen as solis en Bernhard Gueller op die dirigeerpodium was oorweldigend positief.

Nie net luisteraars het gereageer nie, maar ook kundige resensente wat selfs voorgestel het dat ’n CD-opname gemaak word.

Dié uitvoering is deel van die KFO se Winter Cyber Symphonies wat vandeesweek voortgesit word met Brahms se Simfonie nr. 3 en Tsjaikofski se opwindend virtuose Klavierconcerto nr. 1 met die Stellenbosse pianis Luis Magalhães voor die klavier. Jeremy Silver is die dirigent en die konsert kan van 22 tot 26 Julie op die Quicket-platform geluister word.

Die resensent Martin Goldstein prys Van der Westhuizen se uitvoering van Haydn se Tjelloconcerto in C majeur vir haar ongedwonge passie. “Sy het nie oor tegniek of musikaliteit gedink nie – elke noot was ’n opregte uitdrukking van haarself.”

Hy sê voorts “die ware skoonheid van haar klank het in die adagio geklink en veral in die lang note. In die cadenza het sy vryheid uitgestal en ’n sin vir innerlike ‘stilte’ in die res van die beweging.”

Die dirigent Bernhard Gueller.

Goldstein het ook lof vir die orkes: “Optimisme, ’n verfrissende helderheid, asook flinkheid en goeie dinamiese nuanses was in die allegro molto teenwoordig.”

Hy bieg dat hy gedink het hy ken Beethoven se Eroica-simfonie (nr. 3 in E-mol majeur), maar hy moes Gueller se praatjie vooraf twee, drie keer luister om al die inligting in te neem waarvan hy onbewus was.

“Die uitvoering van dié simfonie onder maestro Gueller het my absoluut verstom,” skryf Goldstein.

Boekkooi meld in sy resensie, wat digitaal op die webwerf Skrop verskyn, dat “Van der Westhuizen ’n middeweg tussen tradisie en die gevolge van meer histories ingeligte uitvoeringspraktyke handhaaf.

“Soos dit by haar instrument pas, is een van die mees meevoerende aspekte van haar spel juis die skitterende kantilene wat sy musikaal laat ontluik. Dit besit ’n ouwêreldse tydloosheid wat ontroer en waarin virtuositeit genadiglik nie deurgaans domineer nie. In die slotdeel, allegro molto, is die ligter aanslag aansteeklik.”

Hy noem Gueller “die prototipe van ’n anti-maestro. Die musiek wat hy uitvoer, is vir hom belangriker as sy ego.”

Vorige uitvoerings van die KFO is nie meer op Quicket beskikbaar nie, maar kan steeds op Artmusic.tv geluister word.

Dié konserte sluit in Elgar se Tjelloconcerto met Peter Martens en Schubert se Simfonie nr. 5; Mozart se Hoboconcerto in C majeur (Lisa White) en Mozart se Simfonie nr. 41, K550 (“Jupiter”); Mozart se Klavierconcerto nr. 20 (Esthea Kruger) en Schubert se Simfonie nr. 8 in B mineur (Onvoltooide simfonie); Mozart se Dubbelconcerto met die pianiste Albie van Schalkwyk en Francois du Toit; Shannon Thebus met Richard Strauss se Horing-concerto; Stephanus Grové se Concertino vir fluit (Gabriele von Dürckheim) en altviool (Petrus Coetzee).

• Nog goeie nuus vir die KFO en musiekliefhebbers is dat dié orkes se Community Classic- en Spectacular Pops-konserte wat verlede jaar opgeneem is en in die Kersseisoen gestroom kon word, nou op kykNET uitgesaai gaan word.

Luister op 19 en 26 September om 10:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) na die uitvoerings en op dieselfde datums om 12:00 op kykNET NOU (DStv-kanaal 146).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.