Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kimmy Skota in Bloem saam met FSSO
Die Suid-Afrikaanse sopraan Kimmy Skota tree begin Desember saam met die FSSO in Bloemfontein op. Foto: Verskaf

Hierdie keer sal sy self haar loopbaan bestuur. Sy gaan nie weer die laaste greintjie sang-energie uit haar tap voordat sy halt roep nie. Maar ’n blink loopbaan op Europese verhoë eis sy pond vleis.

Dit het die koloratuursopraan Kimmy Skota eerstehands en ten duurste beleef. Ná ’n paar jaar se optredes en talle toere saam met die André Rieu-geselskap, was Skota se liggaam, stem en gees uitgeput.

Sy het teruggekeer na Suid-Afrika en haarself gepamperlang totdat sy gereed gevoel het om haar loopbaan te hervat. “Maar op my voorwaardes,” sê sy met groot nadruk.

’n Optrede wat hieraan voldoen, is dié saam met die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO). Die orkes gee sy laaste uitvoering van die jaar met Skota en die plaaslike sanger Jacobus Silwer as soliste.

Skota het in die Oos-Kaap grootgeword en as skoolkind aan verskeie kompetisies deelgeneem en in kore gesing. Ná skool het sy formele musiekonderrig aan die musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad gekry, ’n BMus-graad verwerf en in 2008 ook ’n uitvoerende diploma.

Nie lank daarna nie was die violis en konsertvervaardiger André Rieu op soek na ’n Suid-Afrikaanse sanger. Skota is aangemoedig om ’n oudisie-opname te stuur, waarna sy vir ’n lewende oudisie genooi is, wat sy met vlieënde vaandels geslaag het. Nie net haar sang het Rieu oorrompel nie, hy het ook van haar voorkoms en verhoogpersoonlikheid gehou.

Die Bloemfonteinse sanger en visuele kunstenaar Jacobus Silwer. Foto: Verskaf

Ná vyf jaar in Rieu-konserte en voortdurend op toer was Skota so gedaan dat sy die sangverhoog verlaat het en aan die herstel van haar liggaam en gees aandag gegee het.

Sy het later stelselmatig haar stem begin oefen en sowat

twee jaar gelede sterk genoeg gevoel om na die kollig terug te keer, maar soos sy sê, op haar voorwaardes.

Skota het ook bepaalde operarolle instudeer wat sy graag wil sing, onder meer Gilda in Rigoletto en Violetta in La Traviata van Verdi, Adina in L’elisir d’amore van Donizetti, Elvira in I puritani van Bellini en Sophie in Der Rosenkavalier van Richard Strauss.

Een van haar sangdosente was Peet van Heerden, die vorige sanghoof van die Odeion Skool vir Musiek.

Silwer, ’n bekende Bloemfonteinse sanger, sal twee duette saam met Skota sing, “Up Where We Belong” en “The Prayer”, asook “Luister”, “My Way” en “Emlanjeni” as solis.

Skota begin haar aandeel met “O Divine Redeemer” van Gounod. Ander sangnommers is die aria “Qui la voce sua soave” (Bellini), “Il bacio” (Luigi Arditi), “Ballsirenen Walzer” uit Lehár se Die lustige Witwe, die wonderbare “Somewhere” uit West Side Story, asook die volksliedjies “Thula Baba” en “Inkosi Jesu”.

Alexander Fokkens dirigeer die FSSO.

Die konsert is op 5 Desember om 18:00 vir 19:00 in die botaniese tuin in Bloemfontein.

Die kaartjies van R50 by Computicket sluit die tuin se toegangsgeld in.

Weens die Covid-19-regulasies is sitplek beperk en alle voorsorgmaatreëls sal toegepas word. Moet dus nie jou masker vergeet nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.