
Nathan Smith (regs) saam met Joseph Clark in die trefferproduksie ‘The Music of Queen’. Foto: Netwerk24
Die kitaarspeler Nathan Smith gaan sy loopbaan in Brittanje voortsit waar “geleenthede wag wat hy nie deur sy vingers kan laat glip nie”.
“Daar is vooruitsigte om in Londen se West End op te tree en ek het ’n agent wat my reeds vir vertonings bespreek het. Totdat die teaters open, sal ek kitaarlesse gee wat ook reeds gereël is,” sê hy.
Hy is besonder opgewonde oor die geleentheid om sy jongste album, Here’s to the Now, in Brittanje bekend te stel.
Smith en sy gesin het in September verlede jaar op die skuif besluit. Hy het dadelik aan die werk gespring en om ’n Global Talent-visum aansoek gedoen. Tot sy verbasing het hy dit binne enkele dae ontvang, terwyl die proses gewoonlik weke duur en boonop baie min aansoeke per jaar goedgekeur word.
Smith het sy stempel deeglik afgedruk in die Suid-Afrikaanse musieklandskap asook in die buiteland. Hy skep gereeld nuwe musiek, het opgetree saam met Ronan Keating en Richard Clayderman en plaaslik saam met onder andere Laurika Rauch en Joseph Clark, asook in talle TV-programme soos Afrikaans is groot, Noot vir Noot, Strictly Come Dancing, om maar enkeles te noem. Hy het ook sy eie produksies op die planke gebring soos Don’t Stop Believing en huldeblykvertonings aan onder andere Eric Clapton en Gary Moore.
Sy albums sluit in Songs from a Diary, The Sum of all Things en Here’s to the Now, wat verlede jaar uitgereik is.
Smith sê hy sal Suid-Afrika geweldig mis en sal beslis na “die wonderlike land” terugkeer. Die skuif na Brittanje is net ’n stap in sy loopbaan.