Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Klankkuns: Slim Renée weet toe wat sy doen

Toe Renée Fleming in Mei 2017 die operawêreld vaarwel toeroep ná ’n seëvierende loopbaan van ruim 30 jaar, was die meeste operaliefhebbers verstom. Baie van hulle het dit as ontydig beskou. Sy was immers op die kruin van haar loopbaan . . .

Fleming wou egter nie soos baie van haar medesangers die oordeelsfout maak om nie te weet wanneer om op te hou sing en dan so haar reputasie te verongeluk nie. Sy was ook slim genoeg om te besef haar stem sal sy glans langer behou as sy op ietwat minder uitdagende genres sou konsentreer: die lied, musiekspele, jazz of ’n operette of twee.

Só het sy vroeër vanjaar in ’n produksie van Rogers & Hammerstein se Carousel op Broadway opgetree en ’n Tony-benoeming vir haar sang en spel daarin gekry.

Met haar jongste CD toon Fleming hoe goed sy met dié oorwegend Amerikaanse musiekspeltradisie vertroud is.

Tipies van haar, is die meeste van die 17 snitte op Broadway minder bekend. Dit neem die luisteraar op ’n ontdekkingstog waarin jy gekonfronteer word deur uitsonderlike werke van musiekspelmeesters soos Cole Porter, Stephen Sondheim, John Kander & Fred Ebb, Jerome Kern, Andrew Lloyd Webber en Adam Guettel, die kleinseun van Richard Rogers.

Van laasgenoemde sing Fleming die openingsnit “Fable”, uit The Light in the Piazza. Dit is ’n pragvoorbeeld van ’n uiters betekenisryke eietydse aria wat die meerdimensionele potensiaal van Amerikaanse musiekspele illustreer: ’n Bykans aandoenlike realiteit ruim plek in vir die soms soetsappige sentimentele idioom van weleer.

Dat Fleming ’n outydse sjarme voluit kan projekteer, bewys sy ook met “Till There Was You” uit Meredith Willson se The Music Man, terwyl daar in “The Glamorous Life” uit A Little Night Music van Sondheim heelwat fenomenale koloratuur binne musiekspelkonteks na vore kom – alles aspekte wat met ’n mindere sangeres nooit só spontaan en tegnies so voortreflik sou geklink het nie.

Haar hantering van die temalied uit The Sound of Music staan soos ’n huis – selfs in vergelyking met Julie Andrews s’n – terwyl sy magies die vroeë jazz-tradisies herroep in Porter se “Down in the Depths” uit Red, Hot and Blue.

Produksiewaardes is hoog vanweë die puik resultate deur ’n viertal verwerkers, die afgeronde prestasies van die BBC-konsertorkes en hul dirigent, Bob Fisher, wat in elke moontlike styl die hoogste professionaliteit handhaaf.

Broadway – Renée Fleming.

Uittreksels uit die musiekspele South Pacific, The King and I, The Sound of Music, A Little Night Music, Song and Dance, Into the Woods, Violet, The Visit, She Loves Me, Nine, The Music Man, The Light in the Piazza en ander.

Meer oor:  Musiek  |  Broadway
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.