Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Klarinet-extravaganza tref Rosestad
Danielle Rossouw

Die Internasionale Klarinet-extravaganza einde vandeesmaand in Bloemfontein is nie net vir deelnemers van oor Suid-Afrika heen nie, maar bied ook vir die publiek die geleentheid om internasionale meesters in aksie te sien.

Benewens meesterklasse, wat enige belangstellende kan bywoon, is daar middaguurkonserte deur die jong deelnemers en drie aandkonserte deur plaaslike en buitelandse soliste. Van die konserte is boonop gratis.

Twee van die vyf genooide buitelandse klarinetspelers het hulle weens onvoorsiene omstandighede onttrek.

Marco Mazzini van Peru en Feng Mei van China is egter vervang deur twee puik Suid-Afrikaners: die deurwinterde Bloemfonteinse leermeester, vroeëre konsertsolis en orkesmusikant Heinrich Armer; en Danielle Rossouw, ’n meestersgraadstudent in haar laaste jaar aan die Koninklijke Academie voor Schone Kunsten (Kask) in Gent, België.

Rossouw was ’n topklarinetleerling aan die Hugo Lambrechts-musiekskool in Parow, Kaapstad, en het talle pryse in nasionale kompetisies gewen. Sy studeer reeds van haar eerste tersiêre jaar onder die bekende Eddy Vanoosthuyse in Gent.

Heinrich Armer

Die internasionale klarinetspelers op die fees is Vanoosthuyse en Severine Sierens van België en Bence Szepesi van Hongarye.

Danré Strydom, die feeskurator en klarinetdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), is ook ’n aanbieder.

Dié soliste kan in die volgende konserte gehoor word:

30 Januarie om 19:30, Odeion-teater

Vanoosthuyse, Strydom, Rossouw, Sierens en Szepesi speel werke van Mendelssohn, Mangani, Weber en Hanssens. Die pianiste wat hulle bystaan, is Anneke Lamont en Lesley-Ann Matthews van die OSM, Jana Mathee van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en Cézarre Strydom van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.

Toegang is gratis.

31 Januarie om 19:00, Warm Karoo (Spitskop)

Klarinet, strykkwartet en canapés: Klarinetsoliste tree op saam met die Odeion-strykkwartet in werke van Weber, Mozart, Brahms en die Kroatiese komponis Ante Grgin.

Toegang kos R295 en sluit canapés in. Bespreek teen 25 Januarie by www.warmkaroo.com.

1 Februarie om 19:30, Odeion-teater

Danré Strydom

Galakonsert met die FSSO. Soliste, ’n klarinetkoor wat Beethoven se 250ste sterfjaar gedenk en Bach se Concerto vir Vier Klaviere, asook werke van Molter, Schreiner, Frost en Weber is op die program. Alexander Fokkens is die dirigent.

Toegang is gratis.

Van beginners tot gevorderde klarinetspelers sal van 28 Januarie tot 1 Februarie individuele en groepmeesterklasse ontvang, aanbiedings oor instrumente en toerusting bywoon en in ’n klarinetkoor optree. Slypskole vir onderwysers word ook aangebied.

Verskeie kompetisies is deel van die fees, waarvan een ’n volle beurs vir ’n klarinetkursus aan die akademie van Clarinets On Stagein België. Die beste klarinetspeler op die extravaganza, soos aangewys deur die besoekende musici, sal die beurs ontvang.

Daar is ook ’n kompetisie waarin komponiste van enige ouderdom en enige land in drie kategorieë kan deelneem: klarinet en klavier, klarinet en strykkwartet en klarinet en kamerorkes. Die wenners word op die openingseremonie bekend gemaak en die wenwerke op die fees uitgevoer. Hierbenewens sal opnames van die werke gemaak word en uittreksels in die internasionale tydskrif The Clarinet gepubliseer word.

Leerlinge van gr. 1 tot gr. 12 kry kans om aan ’n kunskompetisie deel te neem deur die klarinet in ’n medium van hul keuse uit te beeld. Die laaste dag vir inskrywings is 24 Januarie en die bekendmaking van die wenners is op 1 Februarie ten tyde van die afsluitingskonsert.

Volledige inligting oor die Internasionale Klarinet-extravaganza verskyn op die amptelike Facebook-blad Za-International-Clarinet-Extravaganza.

Stuur navrae na clarinetextravaganza@gmail.com.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.