Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Klassiek, rock, jazz – dít sing Cindy-Louise alles

Die Suid-Afrikaanse sangeres Cindy-Louise het klassieke sang in Suid-Afrika studeer, maar pas vanuit Nederland ’n album met indie-rock-, pop-, jazz- en elektroniese musiek uitgereik. Sy gesels met Christiaan Boonzaier oor onder meer dié musikale sprong.

Geluk met jou debuutalbum! Vertel my meer oor die titel, Humanity.

Dankie. Dit hou verband met ’n verskeidenheid menslike emosies. Toe dit vir my as sanger-liedjieskrywer tyd was om liedjies vir die album te kies, het ek besluit om my kreatiwiteit en die hele album se “atmosfeer” op ’n spesifieke tema te fokus – menslikheid. Wat is dit wat ons mens maak? Na my mening, emosies. Jy sal op dié album jouself met geluk, teleurstelling, hartseer, verlies, woede en liefde kan vereenselwig.

Benewens dié emosies sing jy ook op die album oor genres heen – indie-rock, pop, jazz, klassiek, elektroniese musiek. Hoekom al dié genres? Sê dit iets van jou eie musieksmaak?

Ek het met betrekking tot my stem ’n wye omvang, wat my toelaat om oor genres heen te sing. Ek het dit daarmee saam nog altyd moeilik gevind om myself “in ’n boks te plaas”, so hoekom moet my musiek ook (tot een genre) beperk wees? Ek hou van eksperimenteer en om te skep. Musiek is vir my ’n manier om te kommunikeer en (met luisteraars) in verbinding te tree, so ek dink ek bied beslis iets aan ’n eksentrieke gehoor. Dit is hoekom ek daarvan hou om musiekgenres te vermeng, en die feit dat ek ’n wye musieksmaak het, speel ook ’n groot rol.

Vertel ons eers meer van jouself.

Ek is oorspronklik van Benoni. Ek het op 16 begin sing en dadelik daarop verlief geword. Dit was nie altyd maklik vir my om in te pas en myself uit te druk nie, want ek was ’n baie skaam tiener; ek het werklik eers uit my dop gekruip toe ek my eie musiek begin skryf het.

Ek het klassieke en jazz-sang aan die Universiteit van Pretoria studeer, ’n BMus-graad (in 2018) behaal en kort daarna na Nederland geëmigreer. Ek is baie gelukkig getroud, het liefdevolle ouers en het ’n ouer broer.

Watter stemgroep is jy?

Toe ek klassieke sang studeer het, was ek besig om ’n liriese sopraan te word, maar dit is eerlikwaar gans te spoggerig vir my. Ek verkies om net myself te wees, en as ek iets wil sing, doen ek dit net – of dit nou by my stemomvang pas of nie.

Hoe dink jy het jou klassieke opleiding gehelp in ’n loopbaan in popmusiek?

Baie mense vra my dit, maar ek kan nie regtig sê nie. Ja, my stamina is dalk beter en my toonhoogte is baie goed, maar ek voel sang moet uit ’n mens se hart kom en elke persoon is anders. Ek verkies daarom om nie aannames te maak oor die voordele wat ek het omdat ek klassiek opgelei is nie. Ek kan wel sê my begrip van my stem en musiekteorie is beslis voordelig.

Is daar ’n rede hoekom jy ’n loopbaan in moderne musiek nagejaag het en nie ’n loopbaan in klassieke musiek nie?

Ek voel my passie is bloot die skep van my eie musiek. Klassieke musiek is steeds my hart se punt, maar ek is lief vir alle genres en waardeer alle tipes musiek.

Ek verneem jy het kort ná jou studies (in 2018) na Nederland geëmigreer om opera te studeer. Het jy dit gedoen en toe besluit om eerder op popmusiek te fokus?

Ek het in Nederland private sanglesse begin neem, maar toe besluit om op my huidige sangloopbaan te fokus.

Ek woon nou in ’n dorpie tussen Utrecht en Amsterdam.

Vertel ons van die musiektoneel daar. Watter invloed het dit op jou musiek – en hoekom wou jy graag jou musiekloopbaan daar loods?

Ek is versot op die musiektoneel hier; dit is so lewendig en net fantasties. Dit het ’n groot invloed op my musiek want daar is mense van oraloor – Italië, Spanje, Pole – hier. Dit beteken ek kan my musiek met baie mense uit verskillende kulture en lande deel.

Dit is soms moeilik om ’n loopbaan in Suid-Afrika te loods, maar ek druk deur en bly positief. Ek is baie geseënd om ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk en span te hê wat my help.

Enige planne om binnekort ook in Afrikaans of Nederlands te sing?

Ek verkies dit om in Engels te sing, want dit is my moedertaal en dit is die gemaklikste vir my, maar ek is oop vir nuwe dinge en ek het al in ander tale gesing. Ek sal nooit sê ek sal dit nooit doen nie, maar dalk is daar in die nabye toekoms ’n geleentheid vir samewerking wat sang in Afrikaans en Nederlands insluit.

Gaan jy vir die afsienbare toekoms in Nederland aanbly? Beplan jy om hierheen terug te keer? Is daar iemand hier met wie jy sal wil saamwerk?

Ek kan nie dink dat ek weer na Suid-Afrika sal verhuis nie, maar ek sal beslis vir ’n vertoning in my tuisland wil terugkeer. Ek sal mal daaroor wees om met Nataniël saam te werk; ek het nog altyd na hom opgekyk en ek is ’n groot aanhanger. Toe ek destyds nog op universiteit was het hy ’n praatjie daar kom lewer, en ek is so dankbaar dat hy tyd gemaak het om studente en aspirantkunstenaars te kom toespreek. Hy het my beslis geïnspireer – en hy inspireer my steeds.

  • Cindy-Louise se debuutalbum, Humanity, is op alle digitale platforms uitgereik. Die enkelsnit “Femme Fatale”, wat nie op die album ingesluit is nie, het ook onlangs die lig gesien. Besoek die Facebook-blad www.facebook.com/cindylouiseofficial vir meer inligting.
Meer oor:  Nataniël  |  Humanity  |  Universiteit Van Pretoria  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.