Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Klassieke musiek vir fynproewers en avontuurlustiges
Die Integration Trio tree in Johannesburg op.

Vernuwing op wye fronte wag op liefhebbers van klassieke musiek in Gauteng. Paul Boekkooi lys sy voorkeurkonserte vir Maart.

Reeds op 1 Maart bied die Integration Trio bestaande uit Annelien Ball (klavier), Matthew Lombard (saxofoon) en Gerben Grooten (marimba plus ander perkussie-instrumente), ’n konsert van eietydse werke in die Miriam Makeba-konsertsaal op Unisa se Muckleneuk-kampus in Pretoria aan.

Dié konsert, wat om 16:00 begin, sal die gehoor blootstel aan musiek wat spesiaal vir dié drietal gekomponeer is, asook ander werke wat bestaan uit vernuftige verwerkings van bekende stukke vir dié onkonvensionele samestelling van instrumente.

Al drie die musici is uiters wyd gespesialiseerd in verskeie vertakkinge van musiek. Lombard het onlangs ’n doktorsgraad in musiekkuns aan die Universiteit van Kalifornië in Amerika verwerf. Voor dit het dié oud-Tukkie sy meestersgraad in musiek ontvang ná studies aan die Royal Northern College of Music in Manchester. Hy is sonder twyfel een van die land se veelsydigste saxofoonspelers.

Grooten, wat onder meer aan die Rotterdamse Konservatorium in Nederland studeer het, se spesialisgebied was en is steeds gemik op ’n loopbaan as buitengewoon begaafde slagwerkinstrumentalis.

Hy het hom ook bekwaam as dirigent en beklee drie belangrike poste in Pretoria. Hy is dirigent van die UP Simfonieorkes, die Pretoria Simfonieorkes en vir baie jare ook die leier en afrigter van die Bach Koor Pretoria.

Ball is opgelei as konsertpianis, maar word reeds vir die afgelope paar dekades as een van ons voorste begeleiers gereken, terwyl sy ook saam met verskeie van ons orkeste as solis opgetree het en wyd betrokke was by verskeie kamermusiek-ensembles.

Sondagmiddag se program bestaan uit Integration van Jason Rebello, ’n suite wat in opdrag van Lombard gekomponeer is deur die Pretorianer Niel van der Watt, Rhythm of the Gods deur Barbara Thompson, twee werke van Andy Scott: Fujiko en Nemesis, sowel as die Ierse komponis Bill Whelan se Themes from Riverdance in ’n verwerking deur Lombard.

Kaartjies vir die Integration Trio se uitvoering Sondag is by die deur te kry teen R150 (volwassenes) en R120 (pensioentrekkers, studente en kinders).

Toekomstige optredes van dié trio vind plaas op 6 Maart om 13:00 in Sandton se Theatre on the Square, van 20 en 22 Maart op die Wakkerstroom Musiekfees, op 19 Mei in die Konservatorium-saal van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, en in die Musaion op UP se Hatfield-kampus op 30 Julie.

Die Johannesburg Filharmoniese Orkes se slotkonserte van hul huidige somerseisoen vind op 4, 5 en 7 Maart om 19:30 in die Linder-ouditorium, Parktown, Johannesburg, plaas.

Die dirigent is Daniel Boico en die klaviersolis die Duitse pianis Jan Jiracek von Arnim. Hy sal Beethoven se gewildste klavierkonsert, die NO. 5 in E mol majeur, opus 73, ook bekend as die Keiser-concerto, uitvoer.

Ná die pouse dirigeer die Israelies-Amerikaanse Boico Tsjaikowski se Simfonie no. 4 in F mineur, opus 36. Besprekings by Computicket of vanaf 18:30 by die Linder se loket.

Uitvoerings in die Noorde deur Zanta Hofmmeyr (viool) en Ilia Radoslavov (klavier) van die volledige siklus van Brahms se drie vioolsonates vind op die volgende datums in onderskeidelik Johannesburg, Pretoria en Nelspruit plaas: 6 Maart om 19:00 in die Barbara Pretorius-konsertsaal by die Laerskool Jan Cilliers in Parkview, Johannesburg; 8 Maart om 15:00 in die Brooklyn-teater, Menlopark, Pretoria, en op 17 Maart om 19:00 by Uplands College in Nelspruit.

’n Uitsonderlike kamerorkes-uitvoering met jong instrumentale soliste van Duitsland, Japan en Australië, sowel as ’n paar Suid-Afrikaners, tree op 15 Maart om 17:00 in die Linder-ouditorium op. Dit is die Johannesburgse Musiekvereniging se tweede konsert vanjaar.

Die orkes is die LGT Young Soloists Orchestra, en word gelei deur hul stigter, die internasionaal bekende violis en dirigent Alexander Gilman.

Hulle is saamgestel uit ’n groep van 20 besonder talentvolle strykers. Hul program bestaan uit Holst se St. Paul’s Suite, ’n verwerking van Beethoven se Tjello-sonate no. 3 in C majeur, opus 69, Hindemith se Trauermusik vir altviool en strykers, Sollima se Violoncelles, vibrez! vir twee tjello’s en strykers, en Piazzolla se Le Grand Tango vir solo-viool en strykers.

Besprekings by Computicket of die middag by die Linder-loket. Let wel: Daar is geen kredietkaartgeriewe by die Linder nie.

• ’n Volledige voorskou van vanjaar se Wakkerstroom Musiekfees sal oor twee weke gepubliseer word.

Meer oor:  Klassieke Musiek  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.