Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Klavier op dak afgelaai vir spesiale konsert
Luister vandeesweek na Anton Esterhuyse se klavieruitvoering op die dak van die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein.

Die veelsydige Bloemfonteinse pianis Anton Esterhuyse se eerste lewende uitvoering in die koronavirustyd is geen gewone geleentheid nie.

Juis omdat dit so spesiaal is, het hy besluit om dit ook ’n spesiale geleentheid vir luisteraars te maak. Hy laat ’n vleuelklavier op die dak van die Loch Logan-waterfront aflaai sodat die skemerkonsert teen die agtergrond van ’n afgeëts­te stadsprofiel sal geskied.

Esterhuyse sê “dakkonserte is voorheen al in Bloemfontein gehou, maar ek glo dis die eerste soloklavier-uitvoering op ’n dak en dit beloof ’n totaal ander ambience”.

Hy het ook moeite gedoen om musiek te kies wat by die atmosfeer sal pas, soos “Afterglow” van Ed Sheeran, “Music of the Night” van Andrew Lloyd Webber, asook die wonderlike “On this Night of a 1000 Stars” uit Webber se Evita-musiekspel en die sanger Cézanne Yzelle se lied “In jou arms slaap”.

Hoewel die klem op soloklavier val, het Esterhuyse dit goedgedink om dié enkele sangnommers in te sluit met Mario Lategan (“On this Night”), asook Walter Lindeman en Jandré en Marco Huygen van die Hoërskool Fichardtpark wat Esterhuyse se komposisie “Ode aan die land” sal sing.

Fliekmusiek op die program kom uit onder meer Cinema Paradiso, Lion King, Beauty and the Beast en Dream of Olwen. Van Elvis Presley het hy die treffer “Love me tender” gekies.

“Hoewel ek altyd iets vars in elke nommer bywerk, bly die wysies herkenbaar,” sê dié vindingryke musikant.

Hy voer hierdie eienskap verder in ’n musiekstuk wat hy daar en dan met die hulp van die gehoor sal skep. “Ek gaan hulle vra om ’n paar note te noem, sê nou maar F#, B, G en D, waaruit ek ’n melodie sal ontwikkel. Wanneer dit klaar is, kan die gehoor voorstelle vir ’n titel maak.”

Cézanne Yzelle

Daar sal ook verrassings wees, soos die uitdeel van geskenke wat winkels in Loch Logan beskikbaar gemaak het.

Esterhuyse sê ná die uitvoering keer hy terug na twee aanlyn opnames van Anton en vrinne, ’n reeks konserte saam met ander musikante waarmee hy verlede jaar begin het.

Die een konsert sal ’n opera-tema hê en die ander sal met Moira van der Merwe en haar Tiroolse klokke wees waarvoor hy ’n nuwe werk komponeer. Heinrich Lategan sal vir perkussie betrek word en Joanita Erasmus-Alt vir orrelduette saam met Esterhuyse op klavier. Dié konserte word einde Mei aanlyn beskikbaar gestel.

Vir die Skyline Concert word die klank versterk, ligte aangebring, asook ’n groot skerm sodat almal ’n naby-blik van die kunstenaars kan kry.

Plekke word uitgemerk vir 250 konsertgangers wat elkeen eie stoele, komberse en eet- en drinkgoed moet bring. Maskers en ’n warm baadjie is ook nodig.

Die druk van die roof-knoppie in die hysbakke in die middel van die inkoopsentrum neem mense na die konsertarea op Loch Logan se dak.

The Skyline Concert: 16 April om 18:30. Die kaartjies kos R100 en R50 (kinders jonger as 12 jaar) by Phoenixpro.co.za.

Meer oor:  Anton Esterhuyse  |  Bloemfontein  |  Uitvoering  |  Pianis  |  Klavier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.