Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kom geniet country-musiek op Naval Hill
Die musikante in die volgende inrykonsert op Naval Hill in Bloemfontein is van links Rudi van Niekerk, Ilse Fourie, John Smit en Petro Engelbrecht. Foto: Lientjie Mentz

Sedert die kwartaallikse Rhapsody in Bloem-konserte weens die Covid-19-maatreëls in die slag gebly het, is dit met maandelikse optredes deur Petro Engelbrecht en haar medemusikante vervang.

Engelbrecht, stigter van die Rhapsody-konsertreeks, is ’n klassiek opgeleide pianis wat deesdae jazz en ander genres speel en vir die volgende konsert op countrymusiek besluit het.

“Ons sing oor lief en leed, ’n paar kwinkslae word ingewerk (‘Follow Your Arrow’), asook lewenslesse (‘Don’t Fly Too High’),” sê sy.

Die sanger Ilse Fourie, wat besonder gewild is vir haar gevoelvolle jazz-sang, het voorheen ook haar stempel op countryliedere afgedruk en sal dit hier voortsit.

Van die liedere op die program is gunstelinge soos “I Love You Because” van Jim Reeves, “Crazy” van Patsy Cline, “Breathe” en “This Kiss” van Faith Hill, die immergroen “Sway”, “9 to 5” van Dolly Parton en ou bekendes soos “Country Roads” en “Heartaches by the Number”.

Engelbrecht het ook twee nommers uit flieks ingesluit, “When You Say Nothing At All” van Ronan Keating uit Notting Hill (1999) en “Coming Home” uit Country Strong (2010), waarin Gwyneth Paltrow die hoofrol gespeel het.

’n Interessante toevoeging tot die konsert is Engelbrecht se veelsydigheid as musikus. Sy sal benewens klavier en klawerbord, kitaar en mondfluitjie speel en agtergrondsang verskaf.

John Smit sal nie net tussen baskitaar en tromme wissel nie, hy sal dit ook gelyktydig speel om sý vaardighede ten toon te stel.

Die kitaarspeler en onderwyser Rudi van Niekerk voltooi die groep. Hy is bedags in die klaskamer van die Hoërskool Fichardtpark en Fourie, ook ’n onderwyser, is by die Hoërskool Jim Fouché, albei in Bloemfontein.

Soos voorheen word die inrykonsert op die stoep van die Naval Hill-planetarium aangebied, terwyl die konsertgangers in die parkeergebied voor die “verhoog” in of buite hul motors luister. Die klank is uitmuntend en die atmosfeer dié van ’n gesellige skemergeleentheid met eetgoed en drankies teen die ondergaande son wat telkens ’n eie skouspel lewer.

• 16 April om 17:30. Die kaartjies kos R100 by 082 824 5507.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.