Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kom luister na Caruso en Lanza by Affies

Die musiek van Mario Lanza en Enrico Caruso, wat as twee van die beste tenore ooit beskou word, word in die vyfde Aardklop Aubade-konsert, Caruso & Lanza in Africa, uitgevoer.

Die konsert op 6 Junie word by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria aangebied.

Die Amerikaner Lanza sou vanjaar 100 jaar oud geword het en die Italianer Caruso is 100 jaar gelede dood.

Die tenoor Phenye Modiane en die pianis Charl du Plessis.

Die tenoor Phenye Modiane vertolk dié musiek, begelei deur die pianis Charl du Plessis.

Aardklop Aubade is begin nadat baie min klassieke musiekkonserte die afgelope jaar weens die Covid-19-pandemie in Pretoria aangebied is. Du Plessis stel elke program saam en nooi die kunstenaars uit om op te tree.

“Dit is toevallig dat ek hierdie keer ook op die verhoog is. Ek het gedink dit sal ’n goeie konsert wees as ons die twee voorste tenore se musiek saam aanbied. Maar dit bestaan hier en daar uit moeilike arias.”

Du Plessis het aan Modiane ’n lys van sowat 30 liedjies gegee.

“Ek ken al die liedjies, maar het hulle nog nie almal gesing nie,” sê Modiane.

“En natuurlik word nie al 30 gesing nie. Ons het gekyk na wat die beste vir sowat 45 minute sal werk. Wanneer jy jou opleiding kry, wil jy na al die groot tenore luister. Nie almal interpreteer hierdie musiek dieselfde nie.”

Die konsert sluit groot arias, Napolitaanse liedere en liedjies uit musiekspele in.

Modiane sing onder meer “O Sole Mio”, “Granada”, “You’ll Never Walk Alone” en “Una Furtiva Lagrima”.

“Dit gaan oor waarvan die gehoor sal hou om na te luister eerder as waarvan ek hou om te sing.”

Modiane, wat in Pretoria gebore is, het aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie gestudeer. Hy is sedert 2017 Gauteng Opera se artistieke direkteur. Hy is ook die stigter en besturende direkteur van Johannesburg Opera.

Musiekleerlinge van die Afrikaanse Hoër Seunskool open die konsert met ’n kort program.

Die Affies-strykkwartet voer “In the Hall of the Mountain King” uit die Peer Gynt-suite deur Edvard Grieg en die “Radetzkymars” deur Johann Strauss sr. uit.

Die kwartetlede is Devon Marneweck (viool), Gerhard du Preez (viool), Rudolf Smit (altviool) en Wentzel Lotriet (tjello).

• Aardklop Aubade word in samewerking met RSG aangebied.

Die restaurant op die skoolterrein is voor en ná die konsert oop. Die konsert begin om 11:00. Die kaartjies kos van R100 tot R190. Bespreek by Ticketpro. Bel 087 527 0023 of stuur ’n e-pos aan navrae@aardklop.co.za vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.