Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Konsert in Londen, Kaapstad vir jong SA operasangers gehou
Die plaaslik en internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse bariton Njabulo Madlala is vol hoop vir opera in Suid-Afrika. Foto: Verskaf

Die plaaslik en internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse bariton Njabulo Madlala gaan twee konserte hou sodat 25 opkomende Suid-Afrikaanse operasangers ’n slypskool in Kaapstad gratis kan bywoon.

Die Estlandse mezzosopraan Monika-Evelin Liiv en die Suid-Afrikaners Musa Ngqungwana (basbariton), Caroline Modiba (sopraan), Thando Mjandana (tenoor) en Chuma Sijeqa (basbariton) gaan saam met Madlala in die eerste konsert in Londen te sien wees.

Arias en duette deur Mozart, Rossini, Bellini, Verdi, Puccini en Bizet is op die program.

Die konsert gaan daarna in Kaapstad herhaal word, dié keer met Madlala, Owen Metsileng (tenoor), Violina Anguelov (mezzosopraan), Bongiwe Nakani (mezzosopraan) Makudu Senoaona (tenoor), Nozuko Teto (sopraan), Goitsemang Lehobye (sopraan) en Sipho Fubesi (tenoor) op die verhoog.

Volgens Madlala, wat heeltyds in Engeland woon, beoog hy om met die konserte se opbrengs al 25 operasangers se kos, vervoer en verblyf tussen 18 en 28 Julie by die slypskool te dek.

Hy gaan self ’n meesterklas by die slypskool aanbied, wat deur Voices of South Africa georganiseer word. Madlala het dié organisasie sonder winsbejag in 2010 begin om opkomende operasangers se loopbaanontwikkeling te steun.

“Daar is baie min geleenthede vir operasangers in Suid-Afrika,” sê Madlala.

“Toe ek in Inanda, ’n township noord van Durban, grootgeword het, het ek bewus geword van jong operasangers wat desperaat op soek is na rolmodelle en geleenthede.

“Die oomblik toe ek op ’n plek in my loopbaan gekom het waar ek iets daaraan kon doen, het ek Voices of South Africa sonder huiwering gestig. Suid-Afrikaners oor alle rasse heen is van die beste klassieke musici ter wêreld – en hul talent moet ontwikkel word. Ek wil tot dié ontwikkeling bydra,” sê hy.

Suid-Afrikaners oor alle rasse heen is van die beste klassieke musici ter wêreld – en hul talent moet ontwikkel word. Ek wil tot dié ontwikkeling bydra
Njabulo Madlala

Die organisasie het die afgelope nege jaar van die voorste musici na Suid-Afrika gelok, soos Sally Burgess, Britse mezzosopraan, en prof. Kamal Khan, Amerikaanse pianis en dirigent, wat verskeie meesterklasse en slypskole vir jong operasangers aangebied het. Die organisasie het ook die opera La Traviata in 2015 uitgevoer en met ’n sangkompetisie begin, wat vanjaar ná afloop van die Kaapstad-slypskole op 28 Julie plaasvind. Madlala sê dié en ander inisiatiewe is belangrik om die toekoms van opera in Suid-Afrika te verseker.

“Opera in Suid-Afrika beleef ’n bloeitydperk, maar jong talent het nie veel opsies nie. Hulle kan nie ’n loopbaan van opera maak nie, want daar is nie die nodige strukture in Suid-Afrika om ’n loopbaan vir hulle moontlik te maak nie. En dan sing hulle boonop musiek waarop talle mense neerkyk.

“Meer geleenthede moet vir operasangers geskep word – en dit is nie net die regering se skuld dat daar nie geleenthede vir hulle is nie. Ons kan hulle ook help, soos ek met Voices of South Africa probeer doen. Ons moet hulle motiveer en opvoed terwyl ons aan ’n langtermynplan vir opera in die land werk. Ek is baie positief daaroor.”

  • A Night at the Opera is op 12 Julie om 19:00 by die Suid-Afrika-huis in Londen. Kaartjies wissel tussen £20 en £50. Bespreek by www.eventbrite.co.uk.
  • Die konsert word op 20 Julie om 19:30 by die Baxter in Kaapstad herhaal. Kaartjies is tussen R100 en R250 en kan by www.webtickets.co.za bespreek word.
  • Voices of South Africa se nasionale operakompetisie vind op 28 Julie om 15:00 in die Hugo Lambrechts-ouditorium in Kaapstad plaas. Toegang is gratis.
Meer oor:  Opera  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.