Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Konsertmusiek in Gauteng bereik hoogtepunt

Tradisioneel is dit lank reeds die geval dat die aanbod van konsertmusiek in Gauteng jaarliks sy hoogtepunt tussen September en November bereik. Vandeesmaand is daar ook ’n opvallende en welkome toeloop van Vrystaatse musici. Paul Boekkooi lig ’n kortlys van hoogtepunte uit.

Die OSM Camerata. Foto: Verskaf

Een van die oorspronklikste konserte in ’n lang tyd wat Pretoria toe kom, is die trio-uitvoering deur Samson Diamond (viool), Danrè Strydom (klarinet) en Grethe Nöthling (klavier). Nie net voorsien so ’n kombinasie met ’n stryk-, blaas- en klawerbordinstrument in hul midde ’n breë verskeidenheid van klankvariasies nie, maar die repertorium vir so ’n samestelling is in die reël ook buitengewoon.

Op die trio se program verskyn The Klezmer’s Wedding van Srul Irving Glick, die Suite vir viool, klarinet en klavier van Darius Milhaud en drie trio’s vir hierdie kombinasie van onderskeidelik Paul Schoenfield, Gian Carlo Menotti en Aram Chatsjatoerian.

Die vyf komponiste verteenwoordig vier sterk musiektradisies: Joods, Frans, Italiaans en Russies. Chatsjatoerian in besonder se trio, wat Rusland verteenwoordig, is een van die aangrypendste, maar deels ook folkloristies meevoerende hoogtepunte in die geskiedenis van musiek vir dié spesifieke samestelling.

Dié konsert wat deur die Unisa-musiekstigting aangebied word, vind op Sondag 15 September om 16:00 plaas in die Miriam Makeba-konsertsaal op dié universiteit se hoofkampus in Muckleneuk, Pretoria. Kaartjies is by die loket beskikbaar teen R140 (volwassenes) en R110 (studente, pensioenarisse en kinders). Vir meer inligting, skakel 012 429 3311 gedurende kantoorure.

’n Totaal nuwe en andersoortige musiekervaring, waarin lewende musiek met die skouspel rondom sirkus-akrobatiek gekombineer word, is vanjaar vir ’n derde keer agtereenvolgens in die Joburg Theatre in Braamfontein op die planke.

’n Totaal nuwe en andersoortige musiekervaring, waarin lewende musiek met die skouspel rondom sirkus-akrobatiek gekombineer word, is vanjaar vir ’n derde keer agtereenvolgens in die Joburg Theatre in Braamfontein op die planke. Dit is veral ook ’n ideale manier vir ouers met jong(er) kinders om hulle by klassieke musiek in te lyf.

Die skouspel se naam is Journey Beyond – Symphonic Circus. ’n Voltallige Johannesburgse Jeugorkes het sedert 2017 ’n leeueaandeel in die sukses van dié onderneming. Hulle voorsien die merendeels tipiese sirkusmusiek deur komponiste wat eerder vir die meer ernstige musiek wat hulle geskryf het, bekend geraak het.

Asembenemende sweefstoktoertjies, die werk van akrobate, dansers, kontorsioniste, goëlaars, hansworse, ensovoorts is alles gechoreografeer op die maat van die spesiaal geselekteerde musiek. Die Zip Zap Circus-geselskap van Kaapstad wat die kollig met die orkes deel, word aangevul deur die reeds gesoute solo-optredes van onder andere Zolani Mahola, Zita Pretorius en Timothy Maloi.

Daar is slegs vier aandvertonings: Dit open op Donderdag 17 September en eindig op Sondag 22 September. Bespreek by Webtickets.

Elsabé Raath, die OSM Camerata se dirigent. Foto: Verskaf

Nader aan die einde van die maand, tussen 26 en 29 September, besoek die Odeion-musiekskool van Bloemfontein se OSM Camerata onder leiding van sy dirigent, Elsabé Raath, Pretoria en Johannesburg vir drie optredes.

Dié kamerorkes, in 2012 deur Marius Coetzee gestig, het sedertdien by geleentheid groot internasionale lof ingeoes, soos verlede jaar in die Ictus Internasionale Musiekkompetisie in die Verenigde State, asook op die 13de Internasionale Konservatoriumfees van die Rimski-Korsakof-konservatorium in St. Petersburg, Rusland.

Soliste wat saam met die Camerata gaan optree, is die jong tjellis Chris van Zyl en die jong pianis Annerike du Plessis wat onderskeidelik dele uit concerto’s van Haydn en Bach sal uitvoer.

Daar sal ook in van die programme die werke van twee Suid-Afrikaanse komponiste uitgevoer word: Martie Driessen en H. Pieter van der Westhuizen.

Die Camerata se eerste optrede is op 26 September om 13:00 in die nuwe Javett-kunstesentrum by die Universiteit van Pretoria. In dié etensuurkonsert word eietydse musiek uitgevoer.

Op 27 September om 19:00 lewer die Camerata ’n galakonsert in Tukkies se bekende Musaion. Die laaste konsert van sy blitstoer word op 28 September om 19:30 in Johannesburg aangebied in die Universiteit van die Witwatersrand se Atrium-konsertsaal.

Die beste nuus vir laaste: Toegang by al drie die Camerata-uitvoerings is gratis.

Meer oor:  Musiek  |  Paul Boekkooi  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.