Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Konsertreeks span orrel, motors en ’n motorboot in

Twaalf klassieke motors en ’n motorboot is nie iets wat liefhebbers van klassieke musiek aldag in ’n konsert sien nie, maar dít is presies wat voorlê in die Concerts Connect-konsertreeks se laaste aanbiedinge vir die jaar.

Zorada Temmingh Foto: Foto24 / Argief

Dié aanlyn reeks is vroeër vanjaar deur prof. Nina Schumann, hoof van klavier in die departement van musiek aan die Universiteit Stellenbosch, begin as ’n oplossing vir konsertsale wat landwyd weens die staat van inperking moes sluit.

Ses konserte in die reeks is reeds aangebied – nou volg ’n bykomende twee, wat nie net die jaar op ’n hoë noot gaan afsluit nie, maar ook heelwat eerstes gaan bekend stel wat nog nie voorheen in die reeks gesien is nie.

Die eerste ses konserte is almal vooraf opgeneem en aanlyn gestroom, maar in vanjaar se voorlaaste Concerts Connect-konsert op 22 November gaan Zorada Temmingh ’n orreluitvoering lewer wat regstreeks uit die Moederkerk in Stellenbosch uitgesaai gaan word. Gehore sal die konsert óf in lewende lywe óf aanlyn kan beleef.

“Die konsertreeks se tegniese span wou nog altyd ’n regstreekse konsert uitsaai; Zorada se konsert is die perfekte geleentheid daarvoor,” sê Schumann.

“Dit gaan ons ook ’n kykie gee in wat die toekoms inhou – gehore wat kies of hulle óf in lewende lywe óf aanlyn na ’n konsert wil kyk.”

Temmingh, een van Suid-Afrika se voorste orreliste en improviseerders, gaan haar eie improvisasies van Kersliedere uitvoer, asook ’n partita op “God is liefde” en The Hunchback Suite – hoogtepunte uit haar eie klankbaan vir die stilprent The Hunchback of Notre Dame.

Gloria Bosman Foto: gloriabosman.co.za

Daarna, in Concerts Connect se laaste konsert vir die jaar, gaan kykers nog ’n nuutjie te sien kry: ’n klein orkes. Dié konsert, getiteld A Carnival With Gloria Bosman, kan óf op 4 Desember in lewende lywe beleef word óf van 11 tot 16 Desember aanlyn gestroom word.

“Met Carnival wou ons met ’n groot bang eindig!” sê Schumann.

“Camille Saint-Saëns se Karnaval van die diere gaan uitgevoer word deur ’n orkes van 12 musici, plus twee klaviere – ek en Francois du Toit – asook die dirigent Brandon Phillips en die ongelooflike Gloria Bosman, wat die verteller gaan wees.”

Dié swierige formele geleentheid gaan in AdMakers International se kantoor in Kaapstad aangebied word, sê sy.

“Slegs 50 gehoorlede sal dit kan bywoon. Karnaval van die diere is in die eerste helfte. In die pouse gaan ’n besonderse student speel, en daarna gaan almal na die parkeerterrein, waar ’n verskeidenheid van klassieke rooi motors én ’n motorboot ’n verhoog gaan omring. Dit is daar waar Gloria vier liedjies met orkesbegeleiding gaan sing.”

Schumann sê AdMakers International is die perfekte vennoot om dié konsert saam met hulle aan te bied, nie net omdat hul twee vleuelklaviere in hul voorkamer het nie, maar ook omdat Concerts Connect deur hulle hande met die Rooikruis-kinderhospitaal kon vat.

“Die helfte van die Carnival-konsert se kaartjieverkope gaan aan The Children’s Hospital Trust geskenk word om ’n vleuel van die Rooikruis-kinderhospitaal op te knap.

“Ons vereer ook met dié konsert die Cape Town Concert Series, wat die hele reeks ondersteun het. Hulle belig ook die lot van vryskutmusici, wat weens die pandemie swaarkry, so ons het waar ons kon spesifiek vryskutmusici vir hierdie konsert gekontrakteer. Vir van hulle is dit die eerste keer dat hulle sedert die begin van die staat van inperking gaan speel.”

Schumann sê sy is in dié stadium nog onseker of die konsertreeks volgende jaar gaan voortgaan omdat dit gaan afhang van hoe sake weens die pandemie in die toekoms uitsien. Gaan na http://www.brconcerts.com/concertsconnect/ vir meer inligting.

  • Zorada Temmingh se orreluitvoering begin op 22 November om 15:00 in die Moederkerk op Stellenbosch. Kaartjies om die konsert in die kerk by te woon kos R150 vir volwassenes en R120 vir pensionarisse. Kaartjies om die konsert aanlyn te stroom kos R100 per toestel. Bespreek by Quicket.
  • Carnival With Gloria Bosman vind op 4 Desember om 18:00 in AdMakers International se kantoor in Mowbray plaas. Slegs 50 kaartjies teen R1 000 elk is vir dié formele geleentheid beskikbaar. Kaartjies kos R100 per toestel om die konsert tussen 11 en 16 Desember aanlyn te stroom. Bespreek by Quicket.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.