Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Konsertreeks van KFO gestroom

Werk oor naweke, vry in die week. Dit is hoe die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) die gevolge van Covid-19-regulasies systap om aan die gang te bly.

Die Britse dirigent Jeremy Silver lei drie van die vier somerkonserte deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Foto: Operabase

Hulle is tans in die middel van die opnames van die konsertreeks “Summer Cyber Symphonies”, wat uit vier uitvoerings bestaan en van einde Maart gestroom kan word.

Hoewel opknappingswerk aan Kaapstad se stadsaal steeds aan die gang is, is die teaterdeel beskikbaar gestel, maar net oor twee naweke wanneer die gehamer en timmer stil is.

Die laaste twee konserte sal in die Hugo Lambrechts-ouditorium opgeneem word.

Onder normale omstandighede sou die konsertreeks Donderdagaande in die einste stadsaal aangebied word. Die voordeel is nou dat musiekliefhebbers wêreldwyd aanlyn na die KFO kan luister.

So lyk die somerprogram wat op die datums hieronder gestroom kan word. Besprekings is reeds oop.

25 tot 29 Maart

Lisa White, die KFO se hoofhobospeler, tree as solis op in Mozart se Hoboconcerto in C majeur, ’n werk met groot tegniese uitdagings en daarom glo geliefd by uitvoerende kunstenaars.

Mozart se gewilde Simfonie nr. 41, K550 (“Jupiter”) sluit hierby aan. Die openingswerk is “The Unanswered Question”deur die Amerikaanse komponis Charles Ives.

Jeremy Silver, die direkteur van die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool, is die dirigent.

Gabriele von Dürckheim en Petrus Coetzee Foto: KFO

1 tot 5 April

Silver lei ook hierdie konsert, waarin die horingspeler Shannon Thebus in Richard Strauss se Horingconcerto nr. 1 in E-mol majeur gehoor kan word.

Thebus lei die horings in die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes en is ’n gereelde ad hoc-speler vir die KFO ná die vertrek van die hoofhoboïs Caroline Prozesky. Sy en haar man, die KFO se hoofklarinetspeler, Daniel Prozesky, het na Brittanje verhuis.

Mendelssohn se Hebride-ouverture en Haydn se Simfonie nr. 104 in B-mol majeur is ook op die program.

8 tot 12 April

Twee soliste span saam vir Concertino vir altviool, fluit en kamerorkes deur die Suid-Afrikaanse komponis Stefans Grové. Hulle is Petrus Coetzee, die leier van die KFO se altvioliste, en Gabriele von Dürckheim (hooffluitspeler).

Die ouverture uit Mozart se Zauberflöte open die konsert en Beethoven se Simfonie nr. 2 in D majeur, op. 36 sluit dit af.

Silver is weer op die dirigeerpodium.

15 tot 19 April

Bernhard Gueller, die KFO se hoofgasdirigent neem die stokkie oor vir die vierde uitvoering in die somerkonsertreeks.

Die solis is die pianis Esthea Kruger, klavierdosent aan die UK, wat Mozart se Klavierconcerto nr. 20 in D mineur, K466 sal uitvoer.

Die enigste ander werk op die program is Schubert se Simfonie nr. 8 in B mineur, sy bekende “Onvoltooide simfonie”.

Die kaartjies kos R120 per konsert en R400 vir die reeks en is by Quicket beskikbaar. Al die konserte is moontlik gemaak deur die Kaapstad-metro.

Die pianis Esthea Kruger Foto: Verskaf

Kyk ook uit vir . . .

Die koperblaaskwintet van die KFO gee op 25 Februarie om 13:00 ’n gratis uitvoering voor Newspaper House in die stad. Dit is deel van die veldtog “Come back to Cape Town”. Die vyf musici is Paul Chandler, Shannon Thebus, Shaun Williams, Slava Mrazik en David Thompson.

’n Aanlyn konsert ter viering van die Kunstekaap se 50ste bestaansjaar is ook deel van die KFO se program, asook Engelbert Humperdinck se opera Hansel and Gretel, wat van 3 tot 8 April opgevoer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.