Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Koormeester en komponis Mzilikazi Khumalo sterf
Die komponis en koormeester prof. Mzilikazi Khumalo is Dinsdag oorlede.

Die Suid-Afrikaanse komponis, koormeester en akademikus prof. Mzilikazi Khumalo is Dinsdag oorlede. Hy het op 20 Junie sy 89ste verjaarsdag gevier.

“Wat verstommend is, is dat Mzilikazi eers ná sy aftrede in 1989 as professor in Afrikatale by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in alle erns by massakoormusiek betrokke geraak het. Hy het ’n enorme invloed gehad op koormusiek in Suid-Afrika. Daarby sal hy onthou word vir die skep van die eerste Zoeloe-opera, Princess Magogo kaDinuzulu, en die kantate Ushaka KaSenzangakhona: An Epic in Music and Poetry on Shaka,” het die dirigent Richard Cock, ’n goeie vriend, gesê. Volgens Cock het Khumalo Alzheimer se siekte gehad en hy is Dinsdagoggend in Kagiso aan die Wes-Rand oorlede.

“Hy was ’n diep gelowige Christen en was ook betrokke by die Heilsleër; hy het vir jare hul koor gelei. Daarby was hy baie trots op sy Zoeloe-erfenis. Hy wou nog ’n opera oor Cetshwayo skryf, maar het toe te siek geword.”

Die klassiekemusiek-skrywer en -resensent Paul Boekkooi, wat in sy loopbaan talle kere met Khumalo te doen gehad het, noem hom ’n ware Renaissance-man. “Die inspirasie het uit sy oë gestraal. Daar was nie ’n ander koorleier wat in sy skadu kon staan nie; so baie mense het by hom geleer en die tradisie wat hy geskep het, inspireer steeds.”

Cock en Khumalo het die jaarlikse massakoorfees in 1989 begin, wat vir nagenoeg twee dekades in Gauteng aangebied sou word.

Khumalo het ook as voorsitter gedien in die nasionale komitee wat in 1995 beslis het oor Suid-Afrika se amptelike volkslied.

Princess Magogo het gehandel oor die digter-komponis prinses Magogo, en is destyds wyd in die VSA en Europa opgevoer. Dit is in opdrag van Opera Africa geskep. Die ontslape mezzosopraan Sibongile Khumalo het die hoofrol daarin gesing. Die prinses was prins Mangosuthu Buthelezi se ma.

Khumalo is gebore op die plaas KwaNgwelu in die Vryheid-distrik in KwaZulu-Natal. Sy ouers was betrokke by bediening in die Heilsleër en die jong Khumalo het gereeld van skool verwissel. Hy het egter altyd in die skoolkoor gesing en later ook by troues. Hy was later in sy lewe die koorleier van die Soweto Songsters en van die Heilsleër-koor.

Hy het sy tersiêre opleiding aan die onderwyskollege in Mamelodi in Pretoria begin, in 1956 het hy ’n graad in Engels en Zoeloe aan Unisa behaal, daarna het ’n meestersgraad aan Wits gevolg, waar hy in 1988 ook ’n doktorsgraad behaal het.

Khumalo was ook van 1993 tot 2009 in die raad van Samro. Hier het hy die Samro-Mzilikazi Khumalo-beurs ingestel vir navorsing in inheemse Afrikamusiek.

Onder sy verskeie vererings tel die Orde van die Ster, wat oudpres. Nelson Mandela in 1999 aan hom oorhandig het, en pryse vir sy lewenswerk van die Arts & Culture Trust en M-Net. Hy was ook die medesamesteller van drie koormusiekbundels met Suid-Afrikaanse koormusiek in die tonika-solfa, sowel as die Westerse musieknotasie om die inheemse koor-erfenis te bevorder en bewaar.

Khumalo word oorleef deur sy vrou, Rose, en vier kinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.