Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kortalbum van Counting Crows ná 7 jaar se stilte

Hulle was sewe jaar lank stil, maar dit was stellig die sewe vet jare, want die Amerikaanse rockgroep Counting Crows spog met ’n nuwe kortalbum, Butter Miracle.

Wat meer is, reken Adam Duritz, die hoofsanger, dit is van hul beste werk tot dusver.

Adam Duritz, hoofsanger van die Counting Crows.

“Ek is dankbaar oor die treffers wat ons al gehad het, maar ons kan nie ’n orkes met net ’n nalatenskap word nie. Die enigste ding waaraan ek met ’n nuwe album dink, is hoe goed ons dit kan maak. Met ons eerste opname destyds (hulle is al bykans drie dekades in die bedryf) het ons ook nie geweet of mense daarna sal luister nie.”

Duritz maak musiek saam met David Bryson, Charlie Gillingham, Dan Vickrey, David Immerglück, Jim Bogios en Millard Powers.

Hul debuutalbum, August and Everything After, is in 1993 uitgereik.

Hulle is bekend om treffers soos “Mr. Jones”, “A Long December”, “Accidently in Love” (dit is op die klankbaan van die fliek Shrek 2 ingesluit) en hul weergawe van Joni Mitchell se liedjie “Big Yellow Taxi”.

Duritz het die liedjies op Butter Miracle geskryf voordat die pandemie uitgebreek het.

Sowat 85% van die opnames was klaar voordat die inperking in die VSA begin het.

“Ons is vertraag, maar ons kon dit uiteindelik klaarmaak en ons het nie nodig gehad om dit af te rammel nie.”

Die orkes het tot 2019 baie getoer.

“So dit was nie die ergste om verlede jaar ’n bietjie te kon afvat nie. Ek was in die bevoorregte posisie om dit te kan doen, anders as baie ander mense. En ek is lankal in ’n verhouding. Daarom het ek die inperking nie alleen deurgebring nie. Dit sou erg gewees het. Dit was wel vreesaanjaend. Ek het ’n paar vriende vroeg in die pandemie aan die dood afgestaan. Dit is ’n ding om te oorleef en jy moet by jou geliefdes uitkom.”

‘Butter Miracle’, die Counting Crows se nuwe kortalbum.

Hoewel die groep die afgelope sewe jaar nie nuwe musiek uitgereik het nie, het hulle allermins stilgesit. Hulle was op die pad.

En een van die enkelsnitte, “Elevator Boots”, gaan juis oor dié leefstyl.

“Trouens, daar is twee liedjies (op die kortalbum) wat veral handel oor dit wat nog altyd die belangrikste ding in my lewe was: musiek. 'Bobby and the Rat-Kings' kyk daarna uit die perspektief van ’n aanhanger, iemand wat lief is vir musiek en vir wie hierdie fiktiewe band vir hom ’n toetssteen en die klankbaan van sy herinneringe is.”

“Elevator Boots” fokus op musiek uit die oogpunt van ’n musikant.

Dit is die keersy van Duritz se verhouding met musiek.

“Dit het te doen met die lewe op die pad. Alles is tydelik vir die spreker (in die liedjie): mense, plekke. Behalwe musiek. Dit is elke aand daar. Hy kan altyd daarna uitsien en daarop staatmaak.”

Durizt het weer begin skryf.

“Ons is nog nie gereed om te sterf nie, so ons sal aanhou nuwe musiek maak.”

Meer oor:  Johannesburg  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.