Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Korter, toeganklike ‘Fledermaus’ op Suidoosterfees
Die sopraan Frances du Plessis vertolk Rosalinde in die Johann Strauss-opera Die Fledermaus op die Suidoosterfees.

Opera sal voortleef as twee aspekte vir huidige gehore aangepas word: Dit moet verkort word én in ’n verstaanbare taal aangebied word, het die Kaapstadse sanger en dirigent Johannes Slabbert in sy nagraadse studie oor die volhoubaarheid van opera bevind.

Dié twee aspekte het hy toegepas in Die Fledermaus van Johann Strauss wat op die Suidoosterfees speel. Hy het ook ander veranderings aangebring wat die produksie vir veral feesgehore meer toeganklik maak.

Die musiek, wat wemel van mooi melodieë, is behou, asook die lirieke in die oorspronklike Duits. Die dialoog is egter in Engels en Afrikaans en die keuse tussen die twee hang af van die taal waarin ’n sanger die gemaklikste is.

“Luister veral na die mooi Kaapse Afrikaans wat Brittany (Smith) in die rol van Adele praat,” sê Slabbert.

Pleks van ’n orkes – ’n duur kommoditeit – sal twee klaviere en ’n uitgebreide perkussieseksie in die orkesbak wees. Slabbert sê hy is bevoorreg om die pianis Albie van Schalkwyk te kon kry om die musiek te verwerk en as een van die pianiste optree. José Dias sal voor die ander klavier wees.

Ook dekor en kostuums is hedendaags. Die vrolike partytjie in Die Fledermaus se tweede bedryf het ’n Moulin Rouge-tema wat ingeklee word met feetjieliggies, balle met blinkertjies en kleurvolle kostuums. Geen verhoogstelle is te sien nie en tog is die toneel indrukwekkend.

Enkele moderne aanpassings is gemaak, soos Adele wat nie ’n brief ontvang nie, maar ’n WhatsApp en daar wag nie ’n wa buite nie, maar ’n kar.

Dié verwerkte opera volg ná die sukses wat Slabbert met The Old Maid and the Thief van Menotti gehad het wat hy op dieselfde manier verskraal het.

Die Fledermaus is verkort, maar dit kort niks,” het Slabbert gesê. Dit duur 90 minute teenoor die oorspronklike weergawe van drie uur.

Raimondo van Staden is weer die regisseur en Slabbert die dirigent.

Die soliste, almal Kaapstadse sangers, is Frances du Plessis (Rosalinde), Brittany Smith (Adele), Philip Jordaan (Alfred), Mandla Mndebele (Eisenstein), Van Wyk Venter (dr. Blind), Barend van der Westhuizen (dr. Falke), Minette du Toit-Pearce (Ida), Jolene Auret Kappis (prins Orlofsky) en Oliver Druce (Frosch).

Dertig sangstudente van die Universiteit Stellenbosch vorm die koor.

* 27 April om 12:00; 28 April om 20:00; 29 April om 14:00 in die Kunstekaap-teater. R120, R60 by Computicket.

Meer oor:  Suidoosterfees  |  Kaapstad  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.