Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kramer vier ‘verbode’ album met seldsame konsert
Die omslag van David Kramer se debuutalbum, Bakgat!.

Die sanger en liedjieskrywer David Kramer gaan ’n seldsame konsert in Kaapstad aanbied om die 40ste herdenking van sy “omstrede” debuutalbum, Bakgat!, te vier.

Mountain Records het Kramer se debuut in 1980 uitgereik en dit het goue status behaal – maar dit was in omstredenheid gedompel toe die SAUK destyds die hele album verbied het.

“Hulle (die SAUK) het my taalgebruik as vulgêr beskou: Dit was nie aanvaarbaar om Engels en Afrikaans – wat ons vandag as Afrikaaps ken – te meng en dit uit te saai nie,” sê Kramer (68).

“Ek is ook van godslastering beskuldig, en in ’n radio-onderhoud is ek ook nie toegelaat om die album se titel op die lug te sê nie.”

Kramer sê oor die dekades heen het so baie gebeur en hy het so baie vermag dat die uitreiking van sy debuut werklik soos “baie lank gelede voel”. Wanneer hy egter van die album se 12 liedjies sing – onder meer “Krisjan Swart”, “Onder op die plaas”, “Tjoepstil”, “Frikkie” en “Botteltjie Blou” – word hy maklik weer na “daai tyd” weggevoer.

“My broer, John, het die album se omslag ontwerp,” onthou Kramer. 

“Ek is destyds deur die kitsch banaliteit van die voorstede – wawielhekke, gholfbalposbusse, tuindwergies – geïnspireer. Ons het die huis in Rugby gevind – en dit was presies wat ek gesoek het.

“Die omslag was iets wat nog nie in Suid-Afrika gesien of gehoor is nie. Selfs die titel was destyds verregaande en vir dié met konserwatiewe menings nogal skokkend.”

David Kramer

Dié kritiek het hom egter nie ondergekry nie. Die sanger het sedertdien nog 12 solo-albums by sy debuut gevoeg en ook naam as een van Suid-Afrika se voorste musiekspelskrywer gemaak.

Naas ’n optrede in die spoggerige Carnegie Hall in New York, beskou hy sy en sy musiekbroer, wyle Taliep Petersen, se Laurence Olivier-prys vir Kat and the Kings, asook dié musiekspel se speelvak op Broadway as een van sy loopbaanhoogtepunte.

Deesdae is hy egter selde op die verhoog. “My laaste konsert met ’n orkes was Platteland (verlede jaar op die KKNK) en ek het deur die loop van die jaar ’n paar solovertonings gelewer, maar my fokus is nou op skryf en regie vir die teater.”

Sy konsert in Die Boer is danksy die herdenking wel ’n nodige uitsondering. Kramer sal manalleen op die verhoog wees, “net soos toe ek my loopbaan in die 1970’s begin het”.

“As ek lang tye van die verhoog af weg was, raak ek gewoonlik op die openingsaand ’n bietjie senuagtig, maar sodra ek begin, is dit nie meer ’n probleem nie.”

  • David Kramer – Vanaand word op 17 en 18 Januarie, asook op 14 Februarie om 20:30 in Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville, Kaapstad, aangebied. Kaartjies teen R180 is by 021 979 1911 beskikbaar. Besoek www.dieboer.com vir meer inligting.
Meer oor:  Musiek  |  Bakgat!  |  Vermaak  |  Die Boer  |  David Kramer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.