Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Krit: Sopraan, pianis laat koue met uitvoering wyk

Op ’n bibberkoue Donderdagaand het die mezzosopraan Teresa de Wit en pianis Lesley-Ann Mathews die kultuurvure so hoog laat brand dat die eina-gehoor totaal vergeet het van die winterwind.

Teresa de Wit Foto: Verskaf

Lewende uitvoerings in die Covid-tyd is ’n yl gesaaide gebeurtenis.

Die program (met groot sorg saamgestel) is aangebied deur die Odeion Skool vir Musiek en het begin met die wonderlike Zigeunerlieder op. 103 van Johannes Brahms. Die werk is met finesse deur De Wit aangepak en Mathews het haar meesterlik ondersteun. Twee pragtige lieder van Reynaldo Hahn, A Chloris en die bekende Si mes vers avaient des ailes, is in perfekte Frans met die nodige legatolyne en sjarme voorgedra.

Die groot verrassing van die aand was die redelik onbekende Four Cabaret Songs van Benjamin Britten. Hier het De Wit en Mathews ’n kragtoer gelewer. Die vier liedere verg vernuftige toertjies deur al die registers van die stem, asook ’n warm timbre, veral in die heel lae register.

De Wit het dit met groot vaardigheid uitgevoer, hoewel tekens van ’n effe stram oorgang tussen die middel- en lae register tog gehoor kon word. Teen die einde van die werk het die veeleisende lae note bygedra tot tekens van vermoeienis.

Lesley-Ann Mathews Foto: Verskaf

Erik Satie se Je te veux en La diva de l’empire was vir my die absolute hoogtepunt. De Wit het dit met groot gemak gesing en die pragtige melodieë het die gehoor waarlik betower. Mathews se begeleiding het uitgestaan, asook die goeie rapport tussen die twee kunstenaars. Dié aspek was deurgaans aanskoulik en verstommend om dop te hou.

Dis belangrik dat die pianis ’n onbetwisbare deel van die gesamentlike produk vorm, en in dié konsert het Mathews ’n gelyke bydrae tot die uiters skitterende uitvoering gelewer.

In Antonin Dvorak se Sigeunerliedersiklus, die slotwerk op die program, was die musici se vurigheid en sjarme soos ’n knetterende vuur op die koue aand.

Die siklus vra goeie asembeheer en ’n weldeurdagte vertolking van die teks, sowel as vernuftige toertjies op die klavier. Die bekende vierde lied, Songs my mother told me, kon meer liriese momente bevat om die volle omvang en vermoë van De Wit se stem nog beter ten toon te stel.

Die gehoor het die kunstenaars beloon met ’n welverdiende staande toejuiging, waarna die uiters genotvolle program afgesluit is met Mondnacht van Schubert as toegif.

Mathews het my hierin na my asem laat snak. Soveel patos en meelewing in pianissimo-spel hoor ’n mens baie min.

Welgedaan, Teresa en Lesley. Julle was hot stuff.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.