Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kry hier geld om musiekkonsert aanlyn te hou
Die Music in Africa-stigting gaan toelae van tot €8 000 aan ondernemings en organisasies toeken om aanlyn konserte te hou. Foto: musicinafrica.net

Musici wat weens die koronaviruspandemie aan die kortste ent trek en nie geld het om konserte aanlyn aan te bied nie, kan by die Music in Africa-stigting om hulp aanklop.

Die stigting het in ’n mediaverklaring sy jongste projek, Music in Africa Live (MIAL), bekend gestel, wat dit ten doel het om musici te help om weer aan die gang te kom, ’n inkomste deur aanlyn konserte te verdien en hul talente aan die wêreld ten toon te stel.

“Duisende musikante in Afrika is deur die Covid-19-pandemie geraak, wat tot ongekende inperkings en beperkings oor die vasteland heen gelei het,” lui ’n mediaverklaring.

“Musikante in Afrika maak gewoonlik ’n bestaan uit regstreekse konserte – maar hulle is nou in ’n ongelooflike groot penarie. Hoewel sosialemediaplatforms sommige toelaat om hul werk uit te saai, sukkel baie musici steeds om kop bo water te hou.

“MIAL gaan poog om musici in staat te stel om ’n inkomste uit regstreekse aanlyn vertonings te verdien, terwyl dit ook kapasiteitbouprojekte gaan steun wat professionele musici se noodsaaklike vaardighede aanlyn ontwikkel.”

Ondernemings of organisasies wat aanlyn konserte wil aanbied, kan in die eerste van twee MIAL-kategorieë aansoek doen. Aansoekers moet in Afrika woon en moet kan bewys dat hulle die afgelope vier jaar minstens drie regstreekse konserte aangebied het.

Aansoekers moet die finansiering gebruik om ’n aanlyn konsert tussen 15 Oktober en 15 Desember vanjaar aan te bied, en hulle moet dit regstreeks doen – die konserte mag nie vooraf opgeneem en dan uitgesaai word nie.

Suksesvolle aansoekers sal elk €5 000 of €8 000 per projek ontvang, afhangende van hoeveel kunstenaars aan die konsert deelneem.

Aansoekers wat eerder ’n kapasiteitbouprojek aanlyn wil aanbied, kan in die tweede kategorie om finansiering van €7 000 aansoek doen.

Dié projekte moet ook tussen 15 Oktober en 15 Desember aanlyn aangebied word en kan die vorm van ’n webinaar, slypskool, meesterklas, tutoriaal of iets soortgelyk aanneem. Onderwerpe van dié projekte kan die vervaardiging van musiek, die bestuur van kunstenaars, digitale verspreiding, kontrakonderhandelings en musiektoere insluit.

Belangstellendes moet spring: Aansoeke moet teen 26 September aanlyn ingedien word.

Aansoeke in albei kategorieë moet van ’n lang lys dokumente vergesel wees – dit moet ook voldoen aan die bepalings en voorwaardes wat saam met die inskrywingsvorm beskikbaar is op https://www.musicinafrica.net/magazine/call-applications-music-africa-live-digital-showcase-grants en https://www.musicinafrica.net/magazine/call-applications-music-africa-live-capacity-building-grants.

Stuur ’n e-pos na claire@musicinafrica.net vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.