Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kubheka wen prys vir jong operasterre in Duitsland
Bongani Kubheka. Foto: www.swr.de

Die Suid-Afrikaanse bariton Bongani Kubheka is €10 000 ryker nadat hy verlede Saterdag die Duitse uitsaaier SWR se Jong Operasterre-kompetisie gewen het.

Kubheka – wat later vanjaar heeltyds na Duitsland verhuis – is as die wenner van die afdeling vir mans aangewys, terwyl die sopraan Theresa Pilsl van Duitsland die afdeling vir vroue gewen het.

Hy is naas die sopraan Pretty Yende in 2011 en die tenoor Lukhanyo Moyake in 2016 net die derde Suid-Afrikaner wat die kompetisie en daarmee saam die Emmerich Smola-prys kon wen.

“Ek kan dit steeds nie glo nie, maar ek is natuurlik in die wolke,” het Kubheka per WhatsApp vanuit Duitsland aan Netwerk24 gesê.

“Pretty Yende is sedert my voorgraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad (UK) ’n groot inspirasie – ek het haar eintlik as ’n godin beskou. Dit is vir my ’n groot eer om ná haar en Lukhanyo, wat so goed in die bedryf vaar, te wen en in hul voetspore te volg.”

Kubheka was net een van ses sangers – drie mans en drie vroue – wat genooi is om aan die jaarlikse sangkompetisie in Landau, in die suidweste van Duitsland, deel te neem. Hy en sy mededingers is op grond van hul prestasies in ander sangkompetisies genooi om sake in twee rondes in die Jong Operasterre-kompetisie uit te spook.

Kubheka (28), oorspronklik van Newcastle, het sy sangstudies aan die UK begin en sy meestersgraad aan die Welsh International Academy of Voice behaal.

Hy was in 2016 die algehele wenner van die Stuart Burrows-sangkompetisie in Brittanje, het in 2018 die ATKV-Muziqanto-kompetisie in Suid-Afrika gewen, en is net ’n paar maande gelede in Oktober aangewys as die naaswenner van die gesogte Internasionale Neue Stimmen-sangkompetisie in Duitsland.

Hy het danksy dié sukses ’n besige jaar wat voorlê.

“Ek tree in Februarie in Johannesburg in Beethoven se Simfonie no. 9 op, ook in die Starlight Classics-konsert met die ongelooflike maestro Richard Cock.

“In Maart en April is ek in Italië, waar ek by die La Fenice-operahuis (in Venesië) my debuut in (die opera) Carmen gaan maak.”

Hy sal daarna by ’n Neue Stimmen-pryswennerskonsert in Berlyn optree, voor hy in Junie by ’n huldigingskonsert vir die Suid-Afrikaanse operalegendes Angelo Gobbato en Aviva Pelham in Suid-Afrika in aksie sal wees.

“Ek verhuis dan in September vir goed na Duitsland. Ek sal by ’n operahuis gebaseer wees, maar ek kan in dié stadium nie nou verder iets hieroor sê nie.”

Meer oor:  Musiek  |  Opera  |  Klassieke Musiek  |  Pretty Yende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.