Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kurt Darren is ‘gelukkigste man op aarde’

Die topverkopersanger Kurt Darren het sy innerlike partytjiedier losgelaat en sy jongste album, #Partytjiedier, onlangs bekend gestel.

Kurt Darren. Foto: Rapport

Darren, wat Suid-Afrikaners reeds byna ’n kwarteeu aan die skoffel kry, sê hy wil met dié album ook die partytjiedier in sy luisteraars wakker maak.

“Kyk, hulle sê my musiek kry enige ‘paartie’ aan die gang – ’n troue, braai, fees, wat ook al – so dit was maar net tyd om hierdie #Partytjiedier-album te maak. Ons almal het in elk geval ’n partytjiedier in ons wat wil uit.”

Die album het 13 snitte waaroor Darren nie uitgepraat kan raak nie. Hy vermoed sy getroue ondersteuners sal van die liedjies “Partytjiedier”, “Dit is naweek”, “Somerlyf” en “Klein Saterdag” hou.

“Dan is daar ook ’n paar liedjies wat onverwags sal wees, maar wat later al hoe meer vat aan die luisteraars sal kry, soos ‘Tydbom’, ‘Heelaand lank’, asook my heel gunsteling – en wat tans ’n klankbaan is van waar ek my nou in my lewe bevind – ‘Die gelukkigste man op aarde’,” sê hy.

As hy sy somme reg gemaak het, is dié album sy 28ste, sê hy. Hy is een van die min sangers wat byna jaarliks ’n nuwe album uitreik en sê hy geniet die liedjieskryf- en opnameproses net soveel as wat hy die eerste keer het.

“Ek is beslis iemand wat baie passie het vir wat ek doen, en ek het baie idees en melodieë in my kop wat moet uit. Dis belangrik vir my om relevant te bly, en ek eksperimenteer elke keer met nuwe klanke en nuwe idees as dit by vervaardiging kom. Ek sal nooit wil hê my klank moet stagneer nie.”

Kurt Darren se nuwe album, #Partytjiedier.

Benewens die album, het die sanger eintlik nog ’n rede om partytjie te hou: Hy vier in Februarie ’n mylpaalverjaardag. Oor sy 50ste is hy vir eers tjoepstil, maar hy het beslis nie planne om in sy mylpaaljaar sy werk opsy te skuif nie.

“My planne vir volgende jaar is om volstoom hierdie ongelooflike album by feeste en vertonings landwyd te sing. Ek tree ook redelik gereeld in Holland, Nieu-Seeland, Australië, Kanada en Amerika op. Ek vier ook (volgende jaar) ons vyfde jaar van Super Events, waar ek saam met Tony Campbell massiewe produksies beplan en bemark.”

Die sanger sê hy het al in sy loopbaan en lewe heelwat lewenslesse geleer wat hom bybly.

“My grootste lewenslesse wat ek by my mentors geleer het, is om jouself te omring met positiewe mense wat ’n fantastiese uitkoms kan hê op jou drome en idees vorentoe. Die lewe is te kort vir negatiwiteit – die lewe is ’n lied! Onthou ook dat ’n toe mond ’n heel mond is.”

En hoewel hy nog vir jare wil musiek maak, sê hy sy grootste drome is vir sy gesin.

“Al wat ek wil hê, is sekuriteit vir my pragtige gesin. My kinders moet ook net dít wees – kinders met geen sorge nie, wat die vryheid het om hul drome uit te leef.”

Meer oor:  Popmusiek  |  Musiek  |  Kurt Darren  |  #Partytjiedier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.