Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kurt Darren vol hoop ná Covid-19 hom ‘erg vang’

Die sanger Kurt Darren is weer op die been en sterk tuis aan nadat hy aan die begin van die jaar deur die koronavirus platgeduik en in Centurion in die Mediclinic Midstream-hospitaal opgeneem is.

Kurt Darren Foto: Christian Wolf

Darren sê aan Netwerk24 hy het einde verlede jaar olik begin voel en is net ná Oujaarsaand positief vir die virus getoets. Hy is nie seker waar of hoe die virus hom beetgepak het nie. Sy vrou, Dunay van Heerden, en hul twee kinders het nie die virus opgedoen nie.

“Ek was vir ’n paar dae (ná die positiewe uitslag) by die huis,” sê Darren hees.

“Dunay het na my omgesien terwyl ek geïsoleer het en almal van my weggehou is. Ek kan nie meer in woorde beskryf wat ’n spesiale mens sy is nie. Sy het die kinders en haar ma beskerm én so ongelooflik goed na my gekyk.”

Hy sê sy toestand het egter ondanks sy engel-vrou se sorg “net erger geraak”.

“Dis moeilik om te verduidelik, want almal het ’n ander ervaring daarvan. Dunay se ma was ook (vroeër) positief, maar sy was maar net duiselig – en sy’s 68.

“Dit het my erg gevang. Ek is die fiksste wat ek nog in my lewe was – regtig, die beste wat ek nog ooit in my lewe gevoel het – maar as hierdie ding jou vang, vat dit jou na ’n donker plek toe wat jy nie geweet het bestaan nie.

“Ek het net op die bank gelê en . . . Die pyn wat ek gevoel het was fel, en ek is nie ’n ou wat siek word nie, ek was nog nooit in ’n hospitaal nie.”

Darren is onder die wakende oog van sy huisdokter, dr. Louise Engelbrecht, na die hospitaal verwys, waar hy onder die sorg van die pulmonoloog dr. Emmanuel Taban geplaas is.

“Hy’s ’n ongelooflike mens. Die laaste keer wat ek so ’n aura ervaar het, was toe ek Madiba in 2007 ontmoet het. Hy (Taban) het stille krag wat jou laat voel daar is hoop.

“Ek het hom wel jammer gekry, want hy was moeg, maar hy het ondanks dit selfs vir my op ’n kol ’n muffin en koffie gebring, tyd gemaak om te gesels, om te wys hy gee om.

“Ek was werklik een van die gelukkiges wat die regte kombinasie van mense – Dunay, Dr. Engelbrecht en Dr. Taban – om my gehad het.”

Sy hospitaalbesoek was egter nie kinderspeletjies nie, sê hy.

“Dit was ’n journey wat ek moes deurmaak. Dit was belangrik vir my om (van die media en kennisse) terug te trek en my kop in dit te kry.

“Ek het eendag in die hospitaal my bewussyn verloor, vyf verpleegsters moes my (uit die hospitaalkamer) probeer uitdra, ek is op agt liter suurstof geplaas, daar was binneaarse drups oral, my bloed is ses keer per dag getrek, en toe het Dr. Taban gesê hulle moet my na die hoësorgeenheid oorplaas, maar ek wou nie soontoe gaan nie. Ek was in ’n kamer waar ek gevoel het ek kan dit hier hanteer. Ek wou nie met nog mense gaan sit wat baie siek was nie, en toe het ek ’n reuse-kopskuif gemaak en net besluit nou gaan ek baklei.”

Ek het eendag in die hospitaal my bewussyn verloor, vyf verpleegsters moes my (uit die hospitaalkamer) probeer uitdra, ek is op agt liter suurstof geplaas, daar was binneaarse drups oral, my bloed is ses keer per dag getrek . . .
Kurt Darren

Darren is eindelik ná sowat ’n week van die suurstof ontkoppel en eindelik ontslaan. Hy sê hy voel elke dag sterker en sterker.

“Ek vat dit natuurlik stadig. Ek het baie spiermassa verloor, maar dit is die minste van my probleme. Ek is nou net ’n bietjie hees, my longe is aangetas, maar daai gaan regkom. My energie is terug. Ek sê vandag vir Dunay dit is my dogtertjie se eerste dag in gr. 1, en ek voel regtig beter.”

Hy sê die hele ervaring het hom aan die dink gesit oor die lewe, hoe ’n mens regtig jou familie en vriende moet waardeer, en dat dit moontlik is om die pandemie en die virus te oorwin – maar dat ’n mens steeds nie roekeloos moet wees nie

“Ek wil nie ’n doomsayer wees nie. Ja, beweeg rond, gaan aan met jou lewe, maar moenie voel jy is onaantasbaar nie – niemand is nie.

“Dit is ook vir my belangrik dat mense (wat die virus opdoen) weet jou kop is sterker as wat jy dink. Daar is baie mense wat voel hulle baklei alleen, maar almal het iemand wat hulle kan bystaan. Dit is belangrik dat mense besef hulle kan die virus oorwin, elkeen hanteer dit anders, maar dit is moontlik om dit te oorwin.”

Dié boodskap van hoop sal hy ook aan almal oordra wanneer hy weer eendag op die verhoog klim.

“My stem word elke dag beter en ek kan nie wag om weer op die verhoog te klim nie. Ek mis dit om te sing. Ek sal selfs nou in ’n restaurant gaan sit en sing, sou ek kon. Dit is deel van my menswees. Party ouens moet fietsry, ek moet sing. Vir my gees. Vir my siel.

“En wanneer ek doen, sal ek mense wil hoop gee en wil herinner dat not all is lost.”

Meer oor:  Madiba  |  Nelson Mandela  |  Mandela  |  Covid  |  Mediclinic  |  Staat Van Inperking  |  Musiek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Kurt Darren  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.