Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kurt Darren wen sy 9de Sama

Die sanger Kurt Darren het Woensdagaand vir die negende keer in sy loopbaan ’n Sama (South African Music Awards) gewen.

Darren het vir sy 28ste album, #Partytjiedier, die Sama vir beste Afrikaanse popalbum ontvang – en dít in die jaar wat hy 25 jaar in die musiekbedryf vier.

Hy het die prys in dié kategorie voor sy medebenoemdes, die sangers Appel, Danny Smoke, Dewald Wasserfall en Hanco, weggeraap.

Darren sê aan Netwerk24 dit is “fenomenaal en ’n groot eer om ná 25 jaar met die prys vir beste popalbum te kan wegstap”. Hy sê hy vermoed die album het gewen omdat die lekkervoelmusiek daarop net op die regte tyd uitgereik is.

“Dit laat ’n mens ’n bietjie vergeet van die dinge daar buite en laat jou die volgende dag goed voel. Ek het ook ’n wonderlike span en lojale ondersteuners wat my dag en nag ondersteun en bystaan.

“Daarby het die ongelooflike produksiegehalte alles natuurlik deurgetrek. Die produksie op die album – deur my vervaardiger, Dirk van Niekerk – is net ongelooflik.”

Darren het sy eerste Sama-benoeming in 1995 gekry vir die liedjie “For Your Precious Love”, die titelsnit op sy heel eerste album. Hy het sy eerste Sama in 2003 gewen vir die liedjie “Meisie meisie”.

Hy sê laggend hy het “regtig nie ’n vertoonkas” waarin al sy Sama-trofeë uitgestal is nie.

“Almal word veilig weggesit, maar ek het een wat in my ateljee staan, wat my altyd inspireer wanneer ek in die ateljee woeker en skryf. Ek sal hulle almal seker eendag mooi vertoon.”

Kurt Darren Foto: Christian Wolf

Die 26ste Sama-toekenningsgeleentheid, wat deur die Opnamebedryf van Suid-Afrika (Risa) aangebied word, is vanjaar weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking geheel en al virtueel aangebied.

Die pryse word vanjaar in vyf “episodes” uitgedeel, waarvan die eerste drie episodes op 3, 4 en 5 Augustus om 21:30 op Mzansi Magic (DStv-kanaal 161) uitgesaai is. Die laaste twee episodes volg Donderdag- en Vrydagaand, ook om 21:30.

Van die ander wenners wat reeds aangekondig is, sluit in die sangeres Riana Nel, wat die prys vir beste kontemporêre musiekalbum vir Sterker gewen het. Nel is ook in die kategorie vrouekunstenaar van die jaar benoem; die wenner moet nog aangekondig word.

Die Ndlovu-jeugkoor het ook koning gekraai in die kategorie beste volwasse kontemporêre album vir Africa. Die ontslape sanger Lance James en die Grammy-wenner Wouter Kellerman was ook saam met die Ndlovu-jeugkoor in dié kategorie benoem.

James staan egter nog ’n kans om met sy album Swansong die prys vir beste vervaardigde album postuum te wen. Dié prys moet ook nog uitgedeel word.

Meer oor:  Riana Nel  |  Musiek  |  Kurt Darren  |  Lance James  |  Ndlovu-Jeugkoor  |  Samas  |  Sama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.