Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Almal hou van dié ‘Boerepompie’

’n Nuwe Afrikaanse liedjie oor “boerepompies”, “krismiswurms” en “donkielonge” het Afrikaanse musiekliefhebbers aan die praat – en dit ryg die een prestasie na die ander in.

Die sanger Ricus Nel en kletsrymer Snotkop se liedjie “Boerepompie” is binne ’n dag 100 000 keer op YouTube gekyk. Op 20 Junie, net vyf dae nadat die video aanlyn geplaas is, het die getal tot byna 280 000 gestyg. Die liedjie het ook die topplek op die Suid-Afrikaanse iTunes se Music Overall Top 100-lys en Music Afrikaans Top 100-lys beklee.

“Ek is heeltemal oorbluf en dankbaar,” sê Ricus.

“As jy ’n liedjie skryf, hoop jy mense hou daarvan, maar die reaksie . . . ek weet nie wat om te sê nie. Die video het op nr. 1 getrend op YouTube. Dis ’n eerste vir my!”

Die sanger Ricus Nel (regs) en kletsrymer Snotkop sing saam op die liedjie “Boerepompie”. Foto: Christian Botha

Ricus, een van Suid-Afrika se voorste konsertinaspelers, sê hy het aanvanklik net beplan om ’n instrumentale konsertinasnit op sy nuwe album, Pure plaas, in te sluit. Hy het dié snit sommer “Boerepompie” genoem, ’n ou boeremusiekbenaming vir ’n konsertina.

Toe hy later besluit om ’n liedjie saam met sy vriend Snotkop te skryf en op te neem, “het die liggie aangegaan” om “Boerepompie” liewer in ’n liedjie te omskep.

Dit is veral die refrein van die liedjie wat vir talle ’n oorwurm is:

Almal hou van ’n boerepompie, haal die krismiswurm uit.

Almal hou van ’n boerepompie, laat die donkielong jou byt.

Almal hou van ’n boerepompie, in die stad of op die plaas,

want ’n boerepompie gee nie om nie, is jy kort of rond nie, jy gaan lekker dans.

Hoewel Ricus net lag oor die liedjie se stoute woordspelings sê hy dat dit eintlik net oor konsertinas gaan.

“Ek het met boeremusiek grootgeword, maar ek dink nie mense weet dat konsertinas in boeremusiekringe ook krismiswurms en donkielonge genoem word nie. Ek deel dit nou met hulle en wakker sommer nostalgie vir boeremusiek aan.”

As jy ’n liedjie skryf, hoop jy mense hou daarvan, maar die reaksie . . . ek weet nie wat om te sê nie.

Dit lyk uit kommentaar op YouTube asof hy sy doel reeds oortref het.

“Lekker boeremusiek met ekstra ritme! Hou van die ou konsertinawoorde,” skryf Rosemarie S.

“Dit is dalk net die eerste Afrikaanse liedjie waarvan ek hou,” skryf Dee Tee.

“Wens daar was ’n love-knoppie. ‘Boerepompie’ bo!” skryf Thomas Oosthuizen.

< Pure plaas word op 12 Julie uitgereik.

Meer oor:  Snotkop  |  Musiek  |  Ricus Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.