Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Boere-‘boyband’ wys nóg ‘vleis’ in nuwe video

Suid-Afrika se eie “Boere-boyband”, JAN JAN JAN, het ná die wegholsukses van hul eerste enkelsnit, “Wys jou vleis”, nog ’n liedjie uitgereik.

Jaco Pitzer, Riaan Venter en Heinrich Rautenbach – wat in die groep beter bekend is as onderskeidelik FrisJan, LangJan en KleinJan – sing in hul opvolgliedjie, “Ek bly ’n boer”, oor ’n lewe in die stad en hul verlange na die plaaslewe.

“Vir my is dit baie na aan die hart, want ek voel ek sing iets wat waar is: ‘Ek is ’n lat van die stad, maar ’n boer in my hart!’,” sê Pitzer. “Ek woon in die stad (Pretoria), maar wil graag op die plaas wees.”

Venter stem saam.

“Soveel mense smag daarna om elke oggend vroeg wakker te word, met ’n koffietjie op die stoep te staan, die sonsopkoms te kyk, hul hande vuil te kry en te boer – eerder as om in die (stad se) konstante gejaag vasgevang te wees,” sê hy.

“Dit is presies dié droom waaroor ons sing.”

Die musiekvideo, waarin die aktrise en TV-aanbieder Angelique Gerber ook verskyn, is deels op die Boer soek ’n vrou-deelnemer Damian Engelbrecht se plaas by Bapsfontein geskiet.

“Ek bly ’n boer” is geskryf deur Stephan Hugo Botha, wat ook “Wys jou vleis” geskryf het – die liedjie wat die Janne byna oornag bekend gemaak het. Dit het in Oktober verlede jaar ’n beroering veroorsaak toe dit binne ’n maand ’n miljoen keer op YouTube gekyk is. Die kykertalle staan nou op meer as 2,7 miljoen.

“Meer mense herken ons nou en baie mense én feeste wil hê ons moet by hulle kom optree,” sê Rautenbach.

Ook sy lewe het verander, sê Venter.

“Meestal in die sin dat ek besef het hoeveel waarde mense – en ekself – eintlik aan ’n liedjie koppel en hoe dit hulle persoonlik raak,” sê hy.

“Veral klein kinders wat opkyk na ons is nogal besonders.”

Die oorvloed aandag op hulle het ook al tot ’n vreemde ervaring of twee gelei, sê Pitzer.

Daar het al ’n oom in die Menlyn Mall in Pretoria vir my in Game gevra of ek ’n foto saam met hom sal neem en ‘my vleis sal wys’.
Jaco Pitzer (FrisJan)

“Daar het al ’n oom in die Menlyn Mall in Pretoria vir my in Game gevra of ek ’n foto saam met hom sal neem en ‘my vleis sal wys’.”

Hoewel hul musiekloopbaan nou op dreef is, sê die drie hulle is nog nie gereed om van hul heeltydse beroepe te laat gaan nie – Pitzer is steeds ’n fiksheidsinstrukteur, Venter ’n entrepreneur en Rautenbach medebestuurder van Die Boswinkel-fabriekswinkel.

’n Album is ook nog nie in hul visier nie, maar hulle werk aan nog liedjies en droom steeds daarvan om ná die staat van inperking ’n toer te onderneem.

“Ek dink dis ’n droom vir enige musikant om te kan toer, om soveel as moontlik positiewe ervarings op te bou en great mense te ontmoet, veral kunstenaars wat al jare hul lewe aan die beroep wy en om saam met hulle op te tree,” sê Venter.

“Dit is regtig vir ons ’n voorreg om te kan sien hoe ons musiek mense uplift en vir hul eie persoonlike redes hoop gee. Ek sal graag wil hê ons moet daarop voortbou en altyd die eerste reël onthou: om elke oomblik te geniet.”

Meer oor:  Musiek  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.