Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Dié violis is ’n uitmuntende musikus
Foto:
Die Duitse violis Augustin Hadelich se klank is skitterend, omvangryk; die beheersing van sy instrument verbluffend. Dít bewys hy op sy jongste album, Brahms Ligeti Violin Concertos, skryf Paul Boekkooi.

In die evolusie van die vioolkonsert, vanaf die Italiaanse virtuose in die Baroktydperk tot by die komponiste van ons eeu, is daar veral in die 19de eeu bakens wat uitstaan.

Die grootstes onder hulle is Beethoven en Brahms, elkeen van hulle met slegs ’n enkele concerto. Eersgenoemde s’n ontluik binne ’n Klassieke raamwerk wat uit sy nate wil bars. Brahms weer het die volle aanslag en ontwikkeling van die Romantiek uitgeleef. Syne besit ’n simfoniese struktuur waarbinne ’n hoogs gespanne wedywering wat opwindend maar ook bevrydend is, tussen die solis en orkes ontstaan.

Die solis in dié jongste Brahms-opname is die Italiaans gebore violis van Duitse ouers Augustin Hadelich. Hy is 35, het reeds ’n Grammy-prys agter sy naam en bestyg musikaal gesproke ’n kruin wat voluit in sig is.

Nouliks verbasend is dat sy spel aan dié van sy beste voorgangers herinner – Oistrakh, Heifetz, Grumiaux, Neveu, Belkin, Mintz en veral Shaham. Alles wat ’n violis tot ’n uitmuntende musikus verhef, het Hadelich in dié uitvoering verenig.

Sy klank is skitterend, omvangryk; die beheersing van sy instrument verbluffend. Terwyl jy luister, is daar so ’n mate van vanselfsprekendheid in sy interpretasie teenwoordig dat “tegniek” skaars die bewussyn binnedring.

Sy klank is skitterend, omvangryk; die beheersing van sy instrument verbluffend. Terwyl jy luister, is daar so ’n mate van vanselfsprekendheid in sy interpretasie teenwoordig dat “tegniek” skaars die bewussyn binnedring.

Met die Peruaanse dirigent Miguel Harth-Bedoya volg die Noorweegse Radio-orkes die solis se beskouing van die werk op die voet. Hulle skep die ruimte om met ’n uitsonderlike warmte as ’t ware ’n welkome bedding vir Hadelich se solistiese uitinge te bied. ’n Intens harmonies-melodiese eenheid ontstaan.

Baie interessant rondom die solis is dat hy sy selfgeskrewe cadenza aan die einde van die openingsdeel uitvoer. Kort fragmente is aanhalings uit dié van Joachim en Kreisler, maar as geheel bring Hadelich tog ’n nuwe profiel na vore.

Uiters oorspronklik is dat die Brahms-concerto met dié van die 20ste eeuse Hongaarse komponis György Ligeti s’n gekoppel word – ’n werk wat sedert sy voltooiing in 1992 wyd begin aanklank vind het. Soos met moderne(r) werke die geval, is meer intense luister en ’n oopkop-gemoed aangewese.

Dié indringende, vyfdelige werk word deur ’n kamerorkes ondersteun. Op ’n louter abstrakte wyse al dan nie, word daar regstreeks op folkloristiese bronne gesinspeel. Ligeti kom dikwels met verbeelde teatermusiek na vore wat van groot verbeeldingskrag spreek.

Hadelich benader die geheimsinnige afstandelikheid van Ligeti se styl met groot subtiliteit, maar in die kragtoer-cadenza van Thomas Adès in die slotdeel byvoorbeeld, word violistiese tegnieke tot uiterstes gevoer.

* BRAHMS: Vioolkonsert in D majeur, opus 77 – Cadenza: Augustin Hadelich. GYÖRGY LIGETI: Vioolkonsert (1992) – Cadenza: Thomas Adès. Augustin Hadelich, viool / Noorweegse Radio-orkes / Miguel Harth-Bedoya. Warner Classics 0 1902955 10459.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.