Die musiekikoon Elton John het Sondag tydens ’n konsert in trane uitgebars toe hy besef hy kan nie meer sing nie.
John het by die Mount Smart-stadion in Auckland, Nieu-Seeland, opgetree, al is longontsteking vroeër by hom gediagnoseer.
Hy het Sondag op sy Instagram-blad vir sy aanhangers om verskoning gevra.
“Ek wil almal bedank wat vanaand se opvoering in Auckland bygewoon het. Longontsteking is vroeër vandag by my gediagnoseer, maar ek was vasbeslote om vir julle die beste konsert wat menslik moontlik is te gee,” sê hy in sy inskrywing.
John sê hy het sy hart uitgesing totdat sy stem net nie meer kon nie.
“Ek is diep ontsteld en jammer. Ek het dit my alles gegee.”
John moes van die verhoog afgehelp word toe hy die liedjie “Daniel” probeer sing het.
Hy het vroeg tydens die konsert reeds vir sy aanhangers gesê hy is siek en sy stem is nie lekker nie, maar dat hy beplan om ’n lekker konsert aan te bied.
Toe hy sy treffer “Candle in the Wind” sing het hy vir die gehoor gesê hy weet nie hoe lank hy verder sal kan sing nie. John het toe tydelik die verhoog verlaat, maar met ’n nuwe kostuum teruggekom.
Hy het sy stem ’n paar liedjies later verloor en het die verhoog in trane verlaat.
John moet weer Dinsdag en Donderdag in Auckland optree. Daar is ’n groot moontlikheid dat dié twee konserte sal voortgaan omdat die dokters vol vertroue is dat John dan gesond sal wees. – Reuters