Tyd mors is uit, sê die Flooze oor haar nuwe enkelsnit, “TiekTok”.
“Maak nie saak wie of wat jy is nie, kômmin of cool, ’n Sandton-Suid suster of Witbank-Wes wannabe, daai tikkende tiektok tyd staan vir niemand stil nie, so benut élke sekonde.”
Die sanger Vincent Gorden tree saam met haar op in dié liedjie wat gedurende die staat van inperking geskryf is en Vrydag uitgereik is.
Die Witbank-Flooze, wat in die 2000’s die eerste keer in die SABC 2-sepie 7de Laan verskyn het, was vir ’n lang ruk stil, maar dié liedjie is vir haar heerlik.
“Tyd in sy totaliteit, is waaroor die liedjie hoofsaaklik gaan,” sê die Flooze, vertolk deur Sorina Erasmus.

Die Flooze
“En soos alles in die lewe is daar ’n tyd vir alles, dit het ons maar alte goed besef met die afgelope paar maande se ‘lockdown-lewe’. Ek hoop net die inperking se uurglas loop ook nou spoedig leeg sodat die musiekbedryf weer ná ses maande van geen inkomste, kan begin show en met tyd die stukkies kan optel.”
Die Flooze het beslis nie tyd vir negatiewe energie nie.

Vincent Gordon
“Daar sal altyd dié wees wat mens probeer opbou en dié wat jou gaan probeer afbreek, maar die keuse lê by jou of jy gaan fokus op die positiewe gemoed of die negatiewe uitkyk.”
Die Flooze het voorheen verskyn in die musiekvideo van Gordon se liedjie “Stap soos Karlien”.
Waldo Greeff, wat saam met Erasmus aan “TiekTok” geskryf het, het voorgestel dat sy en Gorden weer saam verskyn.
DJ Skeady (Ferdinand Skead) het die musiekproduksie gedoen.