Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Fopdosser maak stem dik oor haatmisdaad in SA

Die fopdosser Shenay O’Brien het ’n roerende weergawe van John Lennon se 1971-liedjie “Imagine” aanlyn uitgereik om bewusmaking te skep oor die haatmisdaad waaronder die LGBTQI-gemeenskap in Suid-Afrika al hoe meer deurloop.

O’Brien hoop die opname vestig ook die publiek se aandag op ’n aanlyn petisie wat pres. Cyril Ramaphosa versoek om sy stem dik te maak oor haatmisdaad in die land – en om ná jare die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak te bekragtig.

“Die wetsontwerp is al in 2016 opgestel en in 2018 deur die kabinet goedgekeur, maar ons wag drie jaar later steeds vir vordering en terugvoering oor die implementering daarvan. Hoekom vat dit so lank?” vra O’Brien, die verhoognaam van die sanger en akteur Thiart Li, vanuit Johannesburg.

“Ons as ’n gemeenskap leef elke dag in vrees. As ek in die aand in my bed klim', kan ek nie help om te wonder wanneer ek die volgende slagoffer gaan wees wat net by die stygende statistieke gevoeg gaan word nie.

“Die LGBTQI-gemeenskap is tans in Suid-Afrika op ’n baie gevaarlike plek.”

O’Brien sê sy het sedert Februarie verneem dat Bonang Gaelae (29) van Sebokeng, Nonhlanhla Kunene (37) van Pietermaritzburg, Sphamandla Khoza (34) van Durban, Nathaniel (Spokgoane) Mbele van Vanderbijlpark, Andile (Lulu) Nthuthela (41) van Kariega en Lonwabo Jack (22) van Nyanga in Kaapstad almal weens hul seksuele oriëntasie vermoor is.

“ ’n Dag nadat ek die video (van Lennon se 'Imagine') uitgereik het, is Lucky Motshabi (30) in Denilton, Limpopo, vermoor – en drie dae daarna het die moord op Phelokasi Mqathana (24) van Khayelitsha in Kaapstad ook aan die lig gekom.

“Ek wou hierdie video maak om ’n lig op hierdie moorde te skyn – ook om te verseker dat hul dood nie ongesiens verbygaan nie. Ek voel die media vee hierdie wandade onder die mat in en daar word nie genoeg aandag daaraan gegee om die erns daarvan aan te spreek nie.

“Dit is tyd dat die oortreders en die regering aanspreeklik gehou word en dat geregtigheid geskied, soos wat veronderstel is om te gebeur.”

As ek in die aand in my bed klim, kan ek nie help om te wonder wanneer ek die volgende slagoffer gaan wees wat net by die stygende statistieke gevoeg gaan word nie. Die LGBTQI-gemeenskap is tans in Suid-Afrika op ’n baie gevaarlike plek.
Shenay O'Brien

O’Brien, wat ook die aanlyn webreeks We’re Queer, My Dear geskep het om die LGBTQI-gemeenskap in Suid-Afrika se wekroepe te bespreek en luid te verkondig, het “Imagine” self verwerk. Die video is deur Morné Vogel vasgevang en die liedjie is met behulp van die Binnelanders-akteur Germandt Geldenhuys in sy tuisateljee opgeneem.

“Ek en Germandt kom al ’n lang pad saam, vandat ons ons eerste teaterproduksie, The Jungle Book, in 2015 by die Peoples Theatre in Johannesburg saam aangebied het. Hy het my ter elfder ure gehelp om die liedjie op te neem en die struktuur daarvan te meng, alles sommer in sy sitkamer in ’n tuisateljee.

“Ek is baie dankbaar vir vriende wat altyd bereid is om in te spring en te help, ook dié wat glo in die projek, veral wanneer dit ’n boodskap van erns en krag dra.”

Sy sê sy hoop die liedjie spoor Jan en Alleman aan om die “stilte” oor haatmisdade in die LGBTQI-gemeenskap te verbreek.

“Ons as ’n samelewing vind dit deesdae so maklik om net ons skouers oor wêreldkwessies op te trek omdat daar reeds so baie negatiewe dinge daar buite is, maar om iemand se lewe te neem omdat jy nie saamstem met die manier waarop hulle hul lewe leef nie, is onaanvaarbaar. Ons is steeds mense. Ons is meer as ons seksuele oriëntasie en ons geslagsidentiteit.

“Hierdie mense wat hul lewe verloor het, was iemand se kind, broer, suster, geliefde, familie en vriend. Plaas jouself vir ’n oomblik in daardie naastes se skoene en dink dan of jy sal stilbly as dit met iemand na aan jou gebeur het. Ek pleit dat mense meer menslikheid en deernis sal toon.

“Suid-Afrika het ’n Grondwet wat ons op papier beskerm, maar die werklike lewe is ’n heel ander storie. Ons het ons medestryders nou meer as ooit tevore nodig om ons te help om hierdie veldbrand van haatspraak en -misdaad te keer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.