Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Gehoorverlies keer dié sangeres (14) nié

Sy het as sesjarige meisie vas geglo sy gaan eendag vir mense musiek maak – en ná agt jaar se harde werk is dít presies wat Ché nou doen.

Ché sê sy is slaggereed om haar musiekdroom te laat waar word. Foto: Christian Wolf

Dié sangeres van Pretoria-Oos het Vrydag haar eerste Afrikaanse enkelsnit, “Ek like hoe jy dans”, uitgereik – ’n liedjie wat sy boonop saam met een van die land se groot sterre, Snotkop, sing.

“My oomblik het toe groter uitgewerk as wat ek ooit kon droom. Ek is bitter dankbaar,” sê Ché, die verhoognaam van Ché-Lee Nel (14), opgewonde.

“Ek is baie bevoorreg. Snotkop is eenvoudig amazing. Daar is net een van hom. Ons het lekker saamgewerk op die musiekvideo. Dit was vet pret. Ons het lang ure geshoot. Ons het lekker gelag en ek en Snotkop werk in die musiekbedryf lekker saam. Snotkop is baie goed in wat hy doen – en ons kan ’n show gee soos min.”

Die jong sangeres se groot oomblik kom eintlik al jare aan. Ché, oorspronklik van Benoni, wat sy met ’n “LOL” beskryf as die “legendariese dorp waar Charlize Theron en Prinses Charlene vandaan kom”, sê haar liefde vir musiek het sy van haar ouma gekry.

“Sy was ’n meester in musiek en het van die begin af onvoorwaardelik in my geglo. Sy het my altyd op die klavier begelei,” sê sy.

Ché was net agt jaar oud toe sy ’n Disney-talentsoeker se oog gevang het en kort daarna die geleentheid gekry het om in Amerika op te tree. Twee jaar later is sy genooi om ’n lid van die musiekgroep MuzikKids te wees, saam met wie sy twee albums uitgereik het voordat die groep in 2018 ontbind het.

Sy is onlangs ’n platekontrak deur Sony/Select aangebied – haar soveelste prestasie wat sy behaal ondanks die feit dat sy sedert die ouderdom van vier met haar gehoor sukkel. Sy het tans 100% gehoorverlies in haar regteroor en 40% in haar linkeroor.

“Dit is my doel en passie as kunstenaar om mense te inspireer,” sê sy. “Jy moet nooit skaam wees vir wie jy is nie. Jy moet nooit verander vir ander nie. Jy hoef nie in die boks te pas nie – dit is oukei om uit te staan. Staan sterk, staan vas en moet nooit opgee nie; aanhouer wen. Ek hoop ek kan mense deur my menswees en my musiek inspireer.”

Sy sê sy gaan al haar drome najaag, terwyl sy tuisonderrig ontvang.

“Ek handhaaf met dit (tuisonderrig) ’n goeie balans tussen my musiek en my skoolwerk. Onderrig is belangrik, maar musiek is my lewe.

“Ek wil ’n legacy laat as iemand wat iets nuuts na die Afrikaanse mark gebring het, as iemand wat hoop vir my medemens gebring het, en met musiek wat nooit uit die mode gaan nie.

“Ek wil ook in die toekoms ’n verhoog deel met Ariana Grande, Justin Bieber, Ed Sheeran – en hulle sommer ’n Afrikaanse liedjie of twee leer.”

Musiekliefhebbers wat graag meer van Ché wil hoor, kan op die Facebookblad https://www.facebook.com/Cheleenel saam met haar kuier. Besoek ook https://www.che-lee.co.za/ vir meer inligting.

  • “Ek like hoe jy dans” is op al die bekende digitale platforms hier uitgereik: https://selectmusiek.lnk.to/ELHJD
Hier is al Ché se gunstelinge:

Akteur(s): Damon (vertolk deur Ian Somerhalder) en Katherine (Nina Dobrev) van The Vampire Diaries.

Fliek: August Rush

Kleur: Turkoois

Kos: Beesfilet met kapokaartappels.

Musiek: Ek is ’n kunstenaar. Ek waardeer letterlik alle genres van musiek opreg. Rap kry soms voorkeur.

Sanger: Daar is so baie. Ariana Grande en Little Mix is twee van my gunsteling.

Sêding: What you are is God’s gift to you. What you become is your gift to God.

Tydverdryf: TikTok en om tyd saam met mense deur te bring. Ek love mense en hul dinge.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.