Geniet die Suidoosterfees se opwindende Lockdown Legato-musiekvideo’s wat eksklusief op Netwerk24 vrygestel is. Kyk hier na Die Heuwels Fantasties se twee musiekvideo's, Stel My Teleur en Tambotieboom.
Die musiekterm legato beteken “saamgevoeg”, en uiteenlopende kunstenaars sorg vir ’n kreatiewe wisselwerking soos selde tevore. Die konsep is tydens die grendelstaat bedink om werkskepping en sinergie tussen plaaslike kunstenaars te bevorder. Lockdown Legato is die uitvloeisel van die samewerking tussen die Suidoosterfees en Stad Kaapstad, ACT, kykNET, Netwerk24, NATi, die Jakes Gerwel Stigting en BASA.
Van die land se voorste musiektalente tree in opwindende kombinasies op. Vandag word die Classics Fantastics-musiekvideos met Die Heuwels Fantasties, Tarryn Lamb en lede van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes bekend gestel.
Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties sê: “Ons is super opgewonde oor hierdie show! Dis in die DNS van Die Heuwels Fantasties om te collaborate. Ons het al voorheen met ’n filharmoniese orkes opgetree tydens ’n groot show, maar om dit nou op ’n meer intieme verhoog te kon doen saam met lede van die jeugorkes was ’n besonderse ervaring. Fans kan uitsien na nuwe verwerkings van ons liedjies, en na Tarryn Lamb saam met ons op vocals.”
Om uiteenlopende musikante saam te gooi, verbreed beide die gehoor en kunstenaar se wêrelde. Dit bied ’n platform vir grensverskuiwende kreatiwiteit en nuwe vennootskappe
Schalk Joubert, kurator en musiekregisseur van die projek
Schalk Joubert, kurator en musiekregisseur van die projek, meen samewerkings soos hierdie is gesond vir die musiekbedryf. “Om uiteenlopende musikante saam te gooi, verbreed beide die gehoor en kunstenaar se wêrelde. Dit bied ’n platform vir grensverskuiwende kreatiwiteit en nuwe vennootskappe.”
Prof. Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, sê: “Die Suidoosterfees bly daartoe verbind om ’n platform vir kunstenaars te skep, veral in hierdie onsekere tye. Ons is dankbaar vir borge en kunstenaars wat met ons hande vat om die projek te verwesenlik. Gehore kan ook uitsien na konserte met dié besonderse kombinasies wat in 2021 in die Moederstad gehou sal word.”
Hou Netwerk24 op Sondag 27 Desember dop vir Rock & Rumba met Arno Carstens, Hassan Adas en Adelia Douw.