Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Passievolle Klofie-orkes se weergawe van ‘Baba Yetu’

Die nasionale staat van inperking kon nie die orkes van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria se geesdrif blus nie.

Dié orkes, ook bekend as die Klofie-orkes, het ondanks die staat van inperking hul eie weergawe van Christopher Tin se “Baba Yetu” virtueel opgeneem.

“Dit was ’n baie lekker proses. Ons het almal dieselfde passie: musiek. Al wat ons wil doen, is musiek maak,” sê Eddie Clayton (46), dirigent van die Klofie-orkes en ook bekende komponis en musiekregisseur wat aan Classics is Groot en die Lion King-konsert gewerk het.

Clayton sê hy en sy vrou, die sangeres Zita Pretorius, het ’n geruime tyd reeds met die idee begin eksperimenteer. “Toe ons die orkeslede hieroor inlig, was daar groot entoesiasme.”

Elke leerling moes hom- of haarself opneem terwyl hulle hul onderskeie instrumente bespeel.

Clayton het musikale verwerkings en gewenste klankgrepe op sy rekenaar bymekaar gesit en toe via WhatsApp aan die orkeslede gestuur. “Die opname wat ek aan hulle gestuur het, bevat musiek en stemleiding van my af. Lede kon dus daarna luister terwyl hulle die opnames doen,” sê Clayton.

Die orkeslede het hul onderskeie video-opnames aan Clayton gestuur. “Ek het dit bymekaar gesit en al die redigering gedoen.”

Clayton sê die proses het sowat ’n week geduur. “Ek is baie chuffed met wat die orkes vermag het. Ek is baie trots op elke lid.”

Die orkes bestaan uit 52 lede en 48 van hulle het aan die video-opname deelgeneem.

Fluite, tjello’s, viole, trompette, trombone, saksofone, Franse horings en baskitare is onder die vele instrumente wat orkeslede gebruik het om die virtuele opname van “Baba Yetu’’ te maak.

Die staat van inperking het wel die Klofie-orkes se toerplanne vanjaar in die wiele gery. “Vanjaar veral is vir ons ’n moeilike jaar, en veral vir die matrieks in die orkes. Ons sou na Italië toer en aan ’n kompetisie in George deelgeneem het. Dit is alles weens die inperking gekanselleer. Die matrieks in die groep mis nou al dié lekker geleenthede,” sê Clayton.

Anoeshka Potgieter (17), matriekleerling en lid van die Klofie-orkes, sê die inperking het geensins die gemoedere in die orkes gedemp nie. “Ons almal deel een groot liefde. Die liefde vir musiek. Daarom het ons die uitdaging om ’n virtuele musiekvideo-opname te maak met albei hande aangegryp. Dit was ’n baie lekker proses,” sê sy.

Potgieter sê die Klofie-orkes het vir haar verskeie deure in haar skoolloopbaan oopgemaak. “Ek sal vir ewig dankbaar wees vir die orkes. Die afgelope vyf jaar in die orkes sal ek vir niks verruil nie. Ek wens ek kan langer deel wees van hierdie ongelooflike span,” sê sy.

Meer oor:  Waterkloof  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.