Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Pretty Yende tot ridder geslaan

Die Italiaanse regering het Dinsdag in Kaapstad ’n buitengewone “uitsondering” gemaak en die Suid-Afrikaanse operaster Pretty Yende tot ridder geslaan, hoewel sy tegnies nog te jonk is.

Die L’Ordine della Stella d’Italia is deur Emanuele Pollio, die Italiaanse konsul-generaal in Kaapstad, aan die 34-jarige Yende oorhandig.

Pollio, wat die oorhandiging namens pres. Sergio Mattarella van Italië behartig het, het aan Netwerk24 verduidelik dat die “toonaangewende eerbewys” deur die president toegeken word aan enigiemand ouer as 35 wat uitsonderlik op ’n gebied presteer en daarmee saam die vriendskap tussen Italië en ’n ander land verstewig.

“Die Italiaanse president moes in Yende se geval (weens haar ouderdom) ’n uitsondering maak,” sê Pollio.

“Haar reuse-opgang in opera en haar aandeel in die vriendskaplike band tussen Italië en Suid-Afrika kon nie met enige ander eerbewys as dié een bekroon word nie.

“Sy is volgens ons rekords die jongste Suid-Afrikaner wat dié eer ontvang.”

Pretty Yende tydens die seremonie. Foto: Louis Heyneman

Yende, wat die erkenning in ’n kort Facebook-inskrywing as ’n “ongelooflike eer” beskryf het, het aanvanklik onder leiding van prof. Virginia Davids aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool studeer.

Sy het haar studie daarna met behulp van die Italiaanse ambassade in Suid-Afrika aan die gesogte La Scala-operahuis se sangakademie in Milaan voortgesit, waar sy haar internasionale sangloopbaan begin het.

Sedertdien het sy volgens Pollio ’n “fantastiese suksesstorie van ’n demokratiese Suid-Afrika” én ’n “ongelooflike ambassadeur van Italiaanse kultuur” geword. Sy is om dié redes aanvanklik deur die Italiaanse konsulaat in Kaapstad vir die eerbewys benoem.

Prof. Angelo Gobbato, eertydse hoof van die UK se operaskool, het die oorhandiging by die Italiaanse ambassadeur se woning in Bishopscourt bygewoon. Hy sê hy het gebars van trots.

“Sy verdien dit (die eerbewys), want sy is natuurlik ’n absolute ster,” sê hy.

“Haar vaardigheid is sonder twyfel uitmuntend, sy sing hoofrolle in operahuise wêreldwyd, en sy kry wonderlike resensies.”

Gobbato onthou vandag nog die oudisie wat Yende as 16-jarige by die operaskool afgelê het.

“Dit gebeur nie aldag dat ’n 16-jarige by ’n operaskool aanvaar word nie, maar die oomblik toe sy op daardie verhoog stap en haar mond oopmaak, het ons almal eenparig geweet ons móét haar hê!” sê hy.

“Sy het toe al ’n stem en timbre gehad wat ons geweet het eendag ’n ongelooflike en belangrike instrument gaan word.

“En sy het nie vandag net die instrument nie, maar sy het die mees ongelooflike verhoogpersoonlikheid – sy weet hoe om beeldskone klank in ’n karakter te omskep, wat selfs die beste sangers nie kan regkry nie. Sy was in dié verband ook nog altyd begaaf.”

Gobbato het Yende vroeër vanjaar in die Palais Garnier in Parys op die verhoog gesien, toe sy die hoofrol in die Italianer Giuseppe Verdi se opera La Traviata gesing het.

“Sy was ongelooflik suksesvol. Sy het die buitengewone vermag en daar in haar loopbaan nog hoër hoogtes bereik,” sê hy.

“Mense aanvaar haar nou as een van ons begaafste sangers – en ek voorspel dat die volgende 20 jaar vir haar wonderlik gaan wees.”

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek  |  Pretty Yende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.