Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: SA en Britse koor sing virtueel saam

Die Covid-19-pandemie het dalk die Tuks Camerata se buitelandse koortoer ontspoor, maar dit het hulle beslis nie gekeer om steeds saam met die Barnsley-jeugkoor in Brittanje te sing nie.

Die twee kore, wat saam uit sowat 150 sangers bestaan, het Carly Simon se Oscar-bekroonde liedjie “Let the River Run” virtueel opgeneem en hul onderskeie opnames en video’s saamgevoeg. Hul eindproduk is Sondag op YouTube uitgereik en is binne ’n dag meer as 7 200 keer gekyk.

“Daar is min vriendskappe so spesiaal soos die een tussen die Tuks Camerata en die hele Barnsley-jeugkoor-organisasie,” sê dr. Michael Barrett, die Tuks Camerata se musikale regisseur, in ’n mediaverklaring.

“Toe ons reis vroeër vanjaar afgestel is, was ons vasbeslote om steeds te ‘ontmoet’ omdat dit ’n tradisie geword het sedert ons paaie ’n paar jaar gelede gekruis het.

“Hierdie video is ’n memoire van ’n ongelooflike band tussen twee organisasies én ’n herinnering aan die skoonheid wat in troebel tye geskep kan word.”

Die kore het “Let the River Run” vir die eerste keer in 2017 by die Europese Koorspele in Letland saamgesing waar hulle albei ’n “grand prix” in hul onderskeie kategorieë gewen het.

Sedertdien het hulle ’n hegte vennootskap gebou en mekaar aangespoor, soveel so dat albei kore plekke in die top-50 op die Interkultur-ranglys van die top-1 000-kore beklee.

Die kore sou vanjaar saam vir die Wêreldkoorspele in België voorberei, voordat dit ook weens die pandemie afgestel is.

“Ons was verpletter omdat ons nie die (Europese) somer met ons vriende in die Tuks Camerata en hul inspirerende dirigent, dr. Michael Barrett, kon deurbring nie,” sê Mat Wright, artistieke direkteur van die Barnsley-jeugkoor, in die verklaring.

“Al ons jong mense was mal daaroor om by hierdie video betrokke te wees. Dit erken ’n vriendskap en hegte band tussen ons twee kore, en dit herinner ons dat sang en musiek kragtige instrumente is wat gemeenskappe bymekaarbring en inspireer – iets wat ons nou meer as ooit nodig het.”

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Koor  |  Musiek  |  Wêreldkoorspele  |  Oscar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.