Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: SA sangeres neem musiekvideo onderwater op

Die sangeres Sincerely Anne het ondanks komplikasies weens bosluiskoors en ’n watervrees ’n musiekvideo onderwater opgeneem.

Die video van haar jongste enkelsnit, “Transcend”, vertel die verhaal van ’n meisie wat letterlik en figuurlik onderwater beland en dan moet leer om die lewe se struikelblokke baas te raak.

“Hierdie proses maak die veglus in haar wakker,” sê Anne, verhoognaam van die musikant Anneri Kriel, in ’n mediaverklaring.

“Sy leer nie net om die mooi in haar situasie raak te sien nie, maar ook om krag van binne te kry. Soos wat sy leer om die krisisse op haar pad te aanvaar, word sy sterk genoeg om die volgende storm te hanteer.”

Hoewel sy soos ’n wafferse meermin in die video lyk, erken Anne aan Netwerk24 dat sy eintlik glad nie ’n bobaas-swemmer is nie en ’n vrees vir water moes oorkom om die video oor ’n tydperk van drie dae in Johannesburg op te neem.

“Dit is in ’n tenk met koeëlvaste glas en oorhoofse beligting in Ilse Moore se ateljee opgeneem,” sê sy.

“Al die skote is teen dubbel die spoed opgeneem, wat baie gehelp het in die dele toe ek die lirieke onderwater moes lipsync – ek moes elke keer my asem uitblaas voor ek vir ’n skoot onderwater moes gaan, so dit het ook beteken dat ek nie elke keer baie lank onderwater kon bly nie.”

Anne sê sy is aan toerusting vasgemaak wat haar gehelp het om sywaarts in die water af te sak.

“Ek het ook in van die skote gewiggordels gedra, maar dit was nie altyd moontlik in die skote met die wit rok nie, want ’n mens sou dit (die gordels) kon sien, so dit het nogal moeite geverg om onderwater te bly – of om op die regte plek te wees vir die kamera om in fokus te bly.”

Sincerely Anne in die musiekvideo van ‘Transcend’. Foto: Ilse Moore Fotografie

Die ervaring was vir haar ekstra “vreesaanjaend” omdat sy die video moes skiet kort ná sy komplikasies weens bosluiskoors opgedoen en daarom erg verswak was.

“Hoewel ek net-net sterk genoeg was om dit te vermag, het dit baie stres op my liggaam gesit, ek was ook in pyn. Ek het geweet dit gaan moeilik wees, maar ek wou dit nogtans doen – ek is hardkoppig.

“Benewens die feit dat dit moeilik was om die musiekvideo te skiet, was dit nogtans ’n opwindende ervaring. Dit is ongelooflik om met sulke wonderlike kreatiewe mense te werk en te sien hoe die hele projek vorder. Dit is beslis ’n ervaring wat ’n mens lewendig laat voel.”

Anne woon in Johannesburg en het as kind begin viool speel. Benewens haar rol as konsertmeester en vioolspeler in die NWU Puk-orkes en die Randse Simfonieorkes, het sy vir 19 jaar as musikant by funksies opgetree en ook vir vyf jaar in groepe gesing. Sy is ook ’n viool- en klavieronderwyseres.

Sy het in 2017 met haar sololoopbaan begin en vroeër reeds die enkelsnitte “Poison” en “She’s on Fire” uitgereik.

Dit is saam met “Transcend” op digitale platforms soos Spotify, YouTube Music, Deezer en Napster beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.