Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Só buit diewe Kaapse musikant se duur fluite

’n Ad hoc-lid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) ervaar tans “elke musikant se nagmerrie” nadat haar dwarsfluit en piccolo letterlik onder haar voete uit gesteel is.

Louisa Theart met die dwarsfluit wat gebuit is. Foto: Landi Groenewald

Louisa Theart (34) het Donderdagaand ná ’n opname met die KFO in die Kaapstadse stadsaal ’n drankie saam met van haar mede-orkeslede by JC Brasserie & Pub in Zonnebloem geniet. Sy het albei haar instrumente in ’n rugsak onder hul tafel op die vloer gesit en haar regtervoet deur een van die skouerbande gesteek sodat niemand dit kon steel nie. Dít is egter presies wat gebeur het.

“Die (drie) mense by die tafel langs ons het dit reggekry om die sak onder my voete uit te steel sonder dat ek dit besef het,” sê Theart.

“Die bestuurder (van die restaurant) het gesien hoe hulle (die diewe) blitsig by die restaurant uit is en ook nie hul rekening betaal het nie. Hy het ons toe kom vra om te kyk of ons nog ons sakke het – en dit is toe dat ek besef dis weg.

“Ek het hulle agternagesit, maar hulle was reeds weg toe ons in die straat kom.”

Die voorval is op kringtelevisie-beeldmateriaal vasgevang, wat Theart met die restaurant se toestemming op haar Facebook-blad geplaas het.

Benewens haar beursie, met al haar bankkaarte en haar rybewys, asook haar dagboek, sonbril, huissleutels, ’n metronoom, bladmusiek, oorpluisies en potlode, is die diewe met haar dwarsfluit en piccolo, saam ter waarde van R135 000, fort.

“Die dwarsfluit is ’n silwer-Muramatsu GX III, reeksnommer 103182, wat in Japan gemaak is,” sê sy.

“Dit het ’n pragtige kopstuk, reeksnommer 230, wat met die hand deur die top-instrumentmaker Miguel Arista gemaak is. Ek sal nooit weer ’n kopstuk kry wat presies soos hierdie een is nie; dit is heeltemal uniek en ek het jare lank gewerk aan die unieke klank wat ek daarop kan maak.

“My ma het vir my die kopstuk as geskenk gekoop toe ek my MMus aan die Royal College of Music (in Londen) verwerf het.”

Sy sê die piccolo is ’n Pearl PFP-105; die reeksnommer is 5773.

“Ek het die piccolo al vir tien jaar. Ek het as student in Londen na-ure in talle konsertsale sitplekke aangewys en só geld gespaar om dit te koop.”

Nie een van die twee instrumente is verseker nie.

“Ek het altyd genoeg spaargeld gehad om my instrumente te vervang, so ek wou nie die baie duur versekering uitneem nie. Ongelukkig, ná die staat van inperking, het ek nie meer spaargeld oor nie – en ek kan ook nie die versekering bekostig nie. Ons bedryf is so te sê vernietig.”

Theart besoek sedert die diefstal elke dag sowat vyf tot ses winkels om te kyk of die diewe dit nie aan ’n winkel vir gebruikte goedere verkwansel het nie.

Sy het verkopers in die buiteland reeds van die diefstal ingelig en ook seker gemaak dat die reeksnommers op Cash Converters en Cash Crusaders se nasionale databasis geregistreer is.

“Lesers kan my help deur ’n oog te hou op winkels in dorpies wat hulle oor naweke weg besoek. Iemand êrens het my fluite en ek glo ons kan hulle terugkry. Suid-Afrikaners weet hoe om mekaar te help. Ek wil baie graag my eie instrumente terughê.”

Theart bied ’n beloning van R5 000 aan enigiemand wat haar dwarsfluit en piccolo veilig aan haar kan terugbesorg.

Sy sê sy sou nooit kon voorspel hoe “traumaties hierdie ervaring sou wees nie”.

“Dit is elke musikant se nagmerrie, maar niks kan ’n mens voorberei nie. Die eerste paar dae was ek in ’n skoktoestand; daarna het ek meer begin voel. Dit is oorweldigend hartseer om so ’n persoonlike item op so ’n onregverdige wyse te verloor. Party dae sukkel ek om op enigiets te konsentreer.”

Theart bied ’n beloning van R5 000 aan enigiemand wat haar dwarsfluit en piccolo veilig aan haar kan terugbesorg. Stuur ’n e-pos na ltheart@gmail.com om haar te kontak.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het aan Netwerk24 bevestig dat die diefstal by die Kaapstad Sentraal-polisiestasie aangemeld is. Dit word tans ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.