Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: So lyk nuwe masker vir sangers

’n Groep ontwerpers en naaldwerkers wat heeltyds spoggerige kostuums vir groot Broadway-produksies vervaardig, het ’n nuwe masker ontwerp waarmee sangers glo gemakliker kan sing.

Die masker, wat onlangs in New York bekend gestel is, staan bekend as die sangersmasker. Benewens drie lae materiaal en verstelbare oorlussies het dit ’n pertinente struktuur wat die materiaal weg van ’n sanger se mond hou. Dit het ook ’n openinkie aan die kant waardeur lug kan sirkuleer en ’n sanger glo makliker kan asemhaal.

Dit word teen $23,50 per masker op broadwayreliefproject.com verkoop. Daar is ook een vir kinders beskikbaar.

Hoewel sy nog nie self die sangersmasker getoets het nie, sê die mezzosopraan Ané Pretorius dit lyk beslis na ’n beter oplossing as die maskers waarmee sangers in Suid-Afrika nou moet klaarkom.

“Ek het onlangs in ’n repetisie vir Kaapstad Opera se Pergolesi Stabat Mater-projek probeer sing met die maskers wat ons tans het. Die grootste probleem wat ek verwag het, was dat dit klank sal demp – maar dít was ’n kortkop agter die probleem rondom die vloei van asemhaling,” sê sy.

“Ja, die klank was nogal gedemp, maar elke keer wanneer ek asem geskep het, het ’n vakuum in die masker ontstaan en het ek die masker basies by my mond ingesuig.”

Pretorius sê dit lyk op die oog af asof dít nie ’n probleem met die sangersmasker sal wees nie.

“Ek wonder tog hoe swaar dit is omdat dit ’n ingeboude struktuur het wat ons maskers nie het nie. Gedempte klank sal beslis steeds ’n kwessie wees omdat klank nie maklik deur materiaal trek nie, maar die singer’s mask lyk tog na ’n goeie opsie vir repetisies, wanneer jy nie uit volle bors hoef te sing nie,” sê sy.

“Ongelukkig dink ek nie die dra van enige soort masker is op die lange duur vir operasangers ’n oplossing nie, want dit is ons doel om ons klank na die agterkant van ’n ouditorium te projekteer.”

Ané Pretorius Foto: Jesse Kramer
Niël Rademan Foto: Argief

Die sanger en pianis Niël Rademan stem saam.

“Die kuns van ’n klassieke sanger en akteur is om sy stem te projekteer. Behalwe vir esteties bevredigende klank en die asem waarop die stem rus, is die projeksie die ander vaardigheid of selfs talent. Om met ’n masker te sing, is soos om ’n mombakkies by ’n modeparade aan te hê.”

Rademan sê oor die sangersmasker dat hy eintlik reeds ’n masker met ’n soort snuit dra.

“Dit is ’n mooi, bont, rekbare materiaal wat in ’n lang band aanmekaar gestik is. Dit kan ’n paar keer om my gesig en nek draai – veilig en mooi, lekker warm vir die winter en die lente,” sê hy.

“My lang neus werk nie goed met die ander soort maskers nie. As ek werklik moet, sal ek daarmee voor ’n mikrofoon sing, maar nie met ’n gewone, klankverdoeselende mondkappie nie.”

Rademan sê as hy sy eie masker kon ontwerp, sou hy seker maak dit het ’n “bont snuit vir almal se snaters”.

Meer oor:  Kaapstad Opera  |  Cto  |  Staat Van Inperking  |  Musiek  |  Koronavirus  |  Singer's Mask  |  Covid-19-Pandemie  |  Niel Rademan  |  Broadway  |  Ane Pretorius  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.