Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Steve se seun gevra om Ghoemas te verlaat

Steve Hofmeyr se seun Devon is Woensdagaand gevra om die kykNET Ghoema-prysuitdeling saam met ’n vriend te verlaat.

Dit was nadat hy en Francois van der Merwe, sy vriend, in die gehoor in die Sun Arena in Pretoria opgestaan en gesê het dit is ’n leuen dat die Afrikaanse taal en kultuur by die Ghoemas gerespekteer word, en dat dit in der waarheid gesensureer word.

Devon sê hulle het gereageer “nadat iemand op die verhoog gesê het die Afrikaanse taal en kultuur moet gerespekteer word en dat Afrikaans die geleentheid gegun moet word om te kan bestaan”.

Devon het Donderdagoggend gesê hy weet nie wie dié spreker was nie. Hy en Van der Merwe het egter nie met haar sentiment saamgestem nie, in die lig van die Ghoema-organiseerders se omstrede besluit om Steve se benoeming vir beste musiekvideo vir "Die land" te onttrek. Die besluit het gekom nadat MultiChoice, wat die Ghoemas borg, gedreig het om hom te onttrek indien die benoeming vir "Die land" behou word. Volgens MultiChoice stem Steve se politieke standpunte nie ooreen met dié van die organisasie nie.

Talle Afrikaanse sangers en ’n paar organisasies het die prysuitdeling uit protes geboikot.

Bobby van Jaarsveld, een van ’n paar musikante wat saam met Hofmeyr in "Die Land" se musiekvideo sing, het op sy Facebookblad gesê “indien ons musiek nie welkom by die Ghoemas is nie, is ons seker ook nie welkom nie”. Van Jaarsveld het ook geskryf: “Raak moeg om stil te bly terwyl hulle ons boelie.” Hy het ook die skakel na "Die land" se musiekvideo geplaas.

Devon sê hy het Jean Kriek, ’n vriend van hom wat betrokke is by die VF Plus se jeugtak, vóór die Ghoema-prysuitdeling laat weet hy gaan die geleentheid bywoon en dat hy daar standpunt wil inneem. Die twee van hulle en nog vriende het ’n plakkaat laat maak wat hulle vasgehou het terwyl gaste Woensdagaand by die prysuitdeling aangekom het. Op die plakkaat was ’n foto van Steve, die VF Plus se logo en die woorde DIE LAND/STOP SENSUUR!

“Baie mense het na ons gekom om ons te steun en foto’s van hulself by die plakkaat te neem,” sê Devon.

Die plakkaat wat Devon Hofmeyr en van sy vriende by die Ghoemas vertoon het uit protes teen die terugtrek van Steve Hofmeyr se benoeming vir Die land se musiekvideo. Foto: Verskaf

Hy, Van der Merwe en nog ’n vriend is toe in die Sun Arena om hul plekke in te neem. Kriek en ’n vyfde vriend het nie kaartjies gehad om in te gaan nie.

Veiligheidswagte het na Devon en Van der Merwe gekom nadat hulle opgestaan en die spreker op die verhoog getakel het. “Die gehoor was tjoepstil. Ons wou nie die verrigtinge ontwrig nie, ons wou net ons sê sê. Ons onderdruk nie ander mense se taal en kultuur nie, hoekom moet dit met ons gedoen word? Toe ons gevra is om te loop, het ons die wagte en hul werk gerespekteer en uitgeloop. Daar was geen bakleiery nie.”

Ivor Price, joernalis en rubriekskrywer, het Woensdagaand oor die debakel getwiet: “Hou asseblief op om Afrikaans (die mooi taal waarvan ek ’n meerderheidspreker is) te betrek by konserwatiewe identiteitspolitiek. Ek is ook trots Afrikaans, maar dis nie net jou land nie. Dis óns land.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê kunstenaars het ook die reg op vryheid van spraak oor hul standpunte.

’n Woordvoerder vir die Ghoemas was nie Donderdagoggend vir kommentaar beskikbaar oor die voorval nie.

Volgens Suzaan Keyter, woordvoerder van kykNET, was Shihaam Domingo, 'n bekende in veral kunskringe, besig met 'n toespraak toe twee mans opgestaan en haar probeer onderbreek het.

Meer oor:  Bobby Van Jaarsveld  |  Steve Hofmeyr  |  Ivor Price  |  Pieter Groenewald  |  Ghoemas  |  Afrikaans  |  Sensuur  |  Boikot  |  Die Land
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.