Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Tino bekoor SA met sy rasper-stem in Afrikaans

Sy loopbaan as sanger het begin toe hy in gr. 11 as lid van sy hoërskool se leerlingraad ’n mede-leerling gestraf het omdat dié te veel met sy kitaar in die koshuis geraas het.

As straf moes dié raserige leerling hom gratis kitaarlesse gee.

Tinotenda ‘Tino’ Singe (19) met sy kitaar. Foto: Verskaf

En vandag het Tinotenda “Tino” Singe (19) van Swellendam Suid-Afrikaners in vervoering met sy video’s waarin hy in Afrikaans sing.

Singe en sy familie het uit Zimbabwe na Suid-Afrika geïmmigreer toe hy nog “baie klein” was. Hulle het in Swellendam gaan woon en bly vandag steeds daar.

Hy was in die Laerskool Swellendam en met sy rugbyvernuf het hy ’n beurs aan die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal losgeslaan.

Tans is Singe ’n eerstejaarstudent aan Elsenburg in Stellenbosch, waar hy plant- en dierkunde studeer.

“Die singery was vir my baie onverwags,” sê Singe, wie se ouers glad nie Afrikaans magtig is nie. “Dit was nooit deel van my lewe nie. Ek het later egter musiek as terapie begin gebruik.”

Tino sê hy het tussen gr. 8 en gr. 11 in sy hoërskool se koor gesing. Hy het egter nooit “voor” gesing nie.

“My ouers het vir my in gr. 10 net skielik ’n kitaar gekoop. Ek kon nie speel nie en dit het my vingers seergemaak. Kitaar speel is soos hengel. Jy moet geduldig wees en ek was glad nie geduldig nie.”

Ek het die foon omgedraai om net op sy stem te kan fokus en het dadelik geweet dié jong man is uniek en het groot talent.

Eers toe die medeleerling hom as deel van sy straf op die kitaar touwys gemaak het, het Singe die kuns begin bemeester. Hy het later saam met die deuntjie “gebrom” totdat hy begin woorde bysit het.

“Ek dink ek het die leerling gestraf omdat hy so goed kitaar kon speel en ek nie,” skerts Singe.

Hy het Afrikaans leer praat, omdat Swellendam maar ’n Afrikaanse dorp is.

“Ek is ’n ekstrovert en hou daarvan om met mense te gesels. Deur Afrikaans te leer kon ek beter oor die weg kom met mense. Ek dink ook dit het my op skool en nou op universiteit baie gehelp om aan te pas. Ek dink ook Afrikaans is ’n baie mooi taal.”

Singe sê sy familie verstaan glad nie wat hy sing nie.

Hy sê die meeste van sy familielede is ook steeds in Zimbabwe.

Tinotenda ‘Tino’ Singe (19) is in Zimbabwe gebore, maar het in Swellendam grootgeword. Foto: Verskaf

Zinta Kymdell, eienaar van ZinK Events, wat Singe nou bestuur saam met ander kunstenaars soos Jan Blohm en Dozi, sê sy het van Singe gehoor toe Blohm op 19 Julie vir haar ’n video gestuur het waarin hy “Ruby”, ’n liedjie van Blohm, sing.

“Ek wou dadelik weet wie dit is. Ek soek na hom!” sê sy. “Ek het die foon omgedraai om net op sy stem te kan fokus en het dadelik geweet dié jong man is uniek en het groot talent.”

Sy sê Singe het glad nie sy video’s opgelaai met die hoop om ’n sangloopbaan te begin nie.

“Tino het geen musiekagtergrond of onderrig nie en hy speel net sowat twee jaar kitaar. Hy het my laat besef dat die publiek altyd sal inkoop op opregtheid, passie en rou, eerlike talent.”

Singe sê Blohm is een van sy grootste inspirasies.

“As ek hom eendag kan ontmoet, sal ek seker omkap,” spot hy. “Ek sien uit om dalk selfs ’n liedjie saam met hom te sing!”

Luister hier hoe Tino sing. 

Meer oor:  Jan Blohm  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.