Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Kyk wie tree almal op in Oude Libertas

Die wêreldbekende Ndlovu-jeugkoor is een van verskeie musikale juwele wat gehore tydens die Oude Libertas-amfiteater se 2019-’20-konsertreeks gaan vermaak.

Die Ndlovu-jeugkoor op die ‘America’s Got Talent’-verhoog.

Pieter-Dirk Uys, Amanda Strydom, die Engelse saksofoonspeler Andrew Young, die kitaarduo CH2, die Italiaanse jazzpianis en -sanger Francesca Tandoi, Karen Zoid en Nataniël is nog van die kunstenaars op die Stellenbosse amfiteater se musiekprogram, wat vanjaar die 43ste keer aangebied word.

Volgens Bondina Osterhoff, direkteur van die amfiteater en samesteller van die program, gee ’n verskeidenheid musiekgenres die konsertreeks vanjaar gravitas.

“Dit was vir my belangrik dat verskillende genres aangebied word: klassiek, jazz, dans, rock – ook Afrikaans en Engels. Dit moes gebalanseerd wees,” sê sy.

Dit is so spesiaal dat hulle (die Ndlovu-jeugkoor) ’n Wes-Kaapse draai by ons maak.
Bondina Osterhoff

Osterhoff sê dit is ’n voorreg om die Ndlovu-jeugkoor op die amfiteater se verhoog te hê.

“Dit is so spesiaal dat hulle ’n Wes-Kaapse draai by ons maak. Karen Zoid is ook altyd ’n hoogtepunt – die teater verleen hom tot die intimiteit wat Karen se konserte so uniek maak.

“Richard Cock gaan ook magic oplewer tydens die vertoning Christmas Carols with Richard Cock, en omdat die teater in ’n Spaanse styl gebou is, is dit ook gepas vir ’n vertoning deur CH2.”

Hou ook die volgende dop:

* Spaanse dans is in die kollig op 16 November om 20:30 en op 17 November om 18:30, wanneer die 2019-’20-konsertreeks met die dansproduksie Spanish Fiesta begin.

In dié produksie gaan Spaanse dansers onder leiding van Carli Bresser op die maat van musiek deur Offenbach, Suppé en Tárrega dans. Die Oude Libertas-feesorkes onder leiding van Cock sal ook musiek uit die opera Carmen en die musiekspel Man of La Mancha saam met die kitaarspeler Alex Comninos, die bariton Bongani Kubheka en die sopraan Hlengiwe Mkhwanazi uitvoer.

Kaartjies kos R280.

Pieter-Dirk Uys as Bambi Kellermann. Foto: Die Burger

* Tannie Evita Bezuidenhout se jonger suster, Bambi Kellermann (haar geboortenaam is Baby Poggenpoel) is op 28 November om 20:15 in die kabaret Pieter-Dirk Uys as Bambi te sien.

Kellermann gaan saam met die pianis Godfrey Johnson musiek deur Kurt Weill en Stephen Sondheim uitvoer – en moenie verbaas wees as sy ook ’n liedjie uit die FAK-sangbundel sing nie.

Dié vertoning het die geliefde Uys ’n Fleur du Cap-prys vir beste opvoering in ’n kabaret besorg.

Kaartjies beloop R240.

* Strydom gaan haar 40ste jaar in die bedryf met die konsert Amanda Strydom – Miss Mandy op 29 November om 20:15 vier.

Sy gaan saam met die pianis Coenraad Rall terugkyk op die musikale reis wat sy die afgelope vier dekades onderneem het.

Kaartjies kos R220.

* Ná sy reusesukses vroeër vanjaar in die talentkompetisie America’s Got Talent gaan die Ndlovu-jeugkoor die Kersmaand op 1 Desember met ’n konsert om 17:30 begin.

Die koor, wat in 2009 gestig is, beoog om konsertgangers vir 45 minute met hul sang te bekoor. Hulle sal ook die verhoog met die a capella-groep Just 6 deel, wat in 2017 die eindronde van South Africa’s Got Talent gehaal het en ook op 4 Desember om 20:15 ’n afsonderlike konsert in die Oude Libertas-amfiteater aanbied.

Kaartjies vir die Ndlovu-jeugkoor en Just 6 se gesamentlike konsert beloop R350, terwyl Just 6 se konsert op 4 Desember R220 kos.

Karen Zoid Foto: Rapport

* Aan die vooraand van die 20ste jaar sedert haar debuut in 2000, gaan Zoid die hartroerende ballades en energieke rockliedjies sing waarop haar aanhangers reeds twee dekades versot is.

Karen Zoid Live begin op 21 Desember om 20:15. Kaartjiepryse wissel tussen R220 en R250.

* Die geliefde Nataniël gaan 2020 met sy nuwe vertoning, Lily Refuses to Listen, inlui.

Die konsert gaan oudergewoonte weer die sanger se beste blues-, jazz-, soul- en popliedjies insluit, en hy sal weer in Floris Louw se flambojante kostuums heelwat snaakse staaltjies in Afrikaans en Engels vertel.

Die grapkas sal die verhoog met Charl du Plessis (klavier), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (baskitaar) en Peter Auret (tromme) deel.

Die konsert word vier keer van 12 tot 15 Februarie om 20:15 aangebied. Kaartjies beloop R280. Geen selfone of kinders jonger as 15 jaar oud word toegelaat nie.

  • Kaartjies vir al die konserte in die Oude Libertas-amfiteater kan by Computicket bespreek word. Besoek www.oudelibertas.co.za vir ’n volledige program.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.