Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: Zoid se lied oor leef midde-in pandemie


Early B, Karen Zoid en Neil Sandilands het kragte saamgesnoer vir ’n besonderse nuwe lied oor die lewe tydens inperking.

Sy hoop haar nuwe lied sal mense laat onthou dat die mensdom aan mekaar verbind is, en dat ons saam die Covid-19-pandemie beleef.

So sê die musikant Karen Zoid oor haar nuwe liedjie “Toe die wêreld stil gaan staan”, wat handel oor die vreemde tyd waarin die wêreld tans verkeer met meer as 20% van die wêreldbevolking in inperking.

Dit is Donderdag om 09:04 op YouTube uitgereik en is van Vrydag beskikbaar op ander digitale platforms. “Toe die wêreld stil gaan staan” is enkele dae voor die inperking opgeneem in Zoid se Mothership-ateljee in Philadelphia. Daarin tree sy saam met die akteur en rolprentmaker Neil Sandilands en die rapkunstenaar Early B op.

Zoid meen daar is twee dinge wat haar in hierdie tyd gefokus hou. “Die eerste is dat ons nou net een dag op ’n slag kan leef, en die tweede is soos hulle in die 1960’s gesê het, die ‘liefde is alles’.”

Van die lirieke lui so:

“En toe sien ek weer die berge

En toe sien ek weer die maan

Daar was geen ridders op wit perde

Geen manne op die maan

Vissies in Venisië

En maskers in Wuhan

Daar was panic, daar was vrede

Toe die wêreld stil gaan staan.”

“Ons moet nou maak soos op die vliegtuig vir ons gesê word. Neem eers die suurstofmasker en sit dit op jou gesig, dan as jy vrylik kan asemhaal, gee jy dit vir ander aan. Sorg eers dat jy cope, voor jy kan help,” het sy aan Netwerk24 gesê.“As jy vandag ’n moeilike dag het, dan is dit so, as jy vandag al jou werk perfek regkry, dan is dit so. Aanvaar dit, onthou ook jy kan nie die hele wêreld op jou skouers dra nie.”Die pandemie laat mense opnuut besef dit is “net jy en jou medemens, daar gebeur soveel mooi goed, in ons eie land het die rykes dadelik geld gegee, oorsee het mense soos Pink geld gegee, ek fokus op die silwer randjie - ja, daar is polisiemanne wat nie reg optree nie, maar ek glo daar is iets moois aan die gebeur met ons psige,” sê sy.

Zoid sê in ’n mediaverklaring dat die liedjie baie toevallig gebeur het: “Neil het vinnig kom hallo sê by my studio, terwyl hy hier was op ’n kuier van Amerika af, letterlik ’n dag voor die president se aankondiging oor die inperking. Ons het gesels oor die virus en die wêreld wat nou vir ewig gaan verander. Wie sou kon dink dat ons in ons leeftyd ’n globale pandemie sal ervaar soos in die vorige eeu met die Spaanse griep? Sowel my ouma- as oupagrootjie is in daardie tyd aan die groot griep dood. Ons het impromptu gesit met ’n kitaar en ’n liedjie geskryf.”

Nadat die inperking aangekondig is, moes hulle spring om dit op te neem. “Toe almal druk besig was om laaste sake af te handel, toiletpapier te koop en inkopies te doen, het ons studio toe gegaan. Ek het Early B gevang net voordat hy die pad Port Elizabeth na sy familie toe gevat het.”

Zoid meen dit is iets besonders “om te kan lewe in ’n tyd waarin letterlik almal in die hele wêreld deur dieselfde ding gaan en dieselfde probleem hulle in die oë staar. Dis ’n ongemaklike rustigheid waarin ons onsself bevind.”

“Toe die wêreld stil gaan staan” is van Vrydag op die digitale platforms Apple Music, Google Play, Spotify, Deezer en Joox beskikbaar.

Vervaardigers: Karen Zoid & Theo Crous

Orkes: Jonno Sweetman, Schalk van der Merwe en Henry Steel

-Verwerk en bykomende inligting deur Laetitia Pople.

Meer oor:  Musiek  |  Karen Zoid  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.