Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Lana Del Rey nooi jou na anderste wêrelde

Lana Del Rey skep wêrelde met haar musiek en haar kulturele invloed kring uit. Danie Marais het na haar jongste album geluister.

Lana Del Rey – Chemtrails over the Country Club (****)

“I think Lady Mary is an uppity minx who is the author of her own misfortune,” het Mrs Hughes, die wyse huishoudster in die TV-reeks Downton Abbey, opgemerk en die moeilikheid met Mary netjies opgesom.

Die omslag van Lana Del Rey se album Chemtrails over the Country Club.

’n Mens sou dieselfde van Lana Del Rey kon sê. Dié Amerikaanse sangeres-liedjieskrywer het wêreldwyd treffersparades verower met sexy opvoerings van tragedies in gekneusde ballades waarin verbete onbevredigbare karakters hul eie ondergang op die maat van smeulende melodieë tegelyk bewerkstellig, besing en betreur.

Sedert haar eerste groot treffer in 2012, “Video Games”, het Del Rey op almal se lippe gebly – van skinderbladjoernaliste tot die Boss, wat haar verlede jaar in ’n radioprogram “eenvoudig een van die beste liedjieskrywers in die land” genoem het. “Sy skep ’n wêreld van haar eie en nooi jou binne,” het Bruce Springsteen bewonderend bygevoeg.

Hy’s reg. Soos ’n Quentin Tarantino of ’n David Lynch neem sy silwerdoek-clichés en skep daarvan nuwe popkuns. Sy gee opgewarmde tragedies ’n radioaktiewe kwaliteit terwyl sy altyd klink soos moeilikheid wat net nie kon gebly het nie. In haar liedjies omvorm Lana Del Rey, gebore Elizabeth Woolridge Grant, Hollywood-argetipes tot onthutsende, eietydse karakters.

In haar vorige album, Norman F***ing Rockwell (2019), het sy haar trip-hop-gegeurde folk-pop-noir oor gedoemde romanses en die stuiptrekkings van ’n dekadente kultuur tot nuwe hoogtes gevoer. In my oorsig oor dié jaar se beste plate het ek dit beskryf as “yacht rock gedokter met Lou Reed se ‘Perfect Day’ – ’n lemmetjiegroen margarita gemeng met valium, trane en die sleeptong- halwe waarhede van ’n salig onsalige Kaliforniese dramakoningin, ’n selferkende ‘24/7 Sylvia Plath’ en ‘Venice Bitch’ wat haar eie drama skryf en regisseer”.

Rockwell was die soort krities hoogaangeskrewe, kommersieel suksesvolle mylpaal wat jou laat wonder het wat op aarde kan Del Rey oorhê om te sê. Met haar sewende plaat, Chemtrails over the Country Club, bewys die “gangster Nancy Sinatra” egter dat haar gô hoegenaamd nog nie uit is nie.

Sy verken nie op haar jongste nuwe emosionele mynvelde nie, maar sy span op die uitstaande “White Dress”, “Not All Who Wander Are Lost” en “Yosemite” ’n uitasem-falsetto in wat selfs ou aanhangers nuwe rillings sal gee. En op “Dance Till We Die” sit sy die eerste keer uitbundige country-rock direk uit die 70’s voor. Die melodieë is deurgaans oorrompelend, terwyl Lana in haar lirieke steeds uitdagend morele ambivalensie bely.

In die era van #MeToo waag Del Rey dit om ’n vrou te speel wat bieg dat “nee” nie noodwendig altyd “nee” is nie: “ ’Cause every time I said no / It wasn’t quite what I meant / If you know what I mean” sing sy in “Not All Those Who Wander Are Lost”.

“If you love me, you’ll love me / ’Cause I’m wild, wild at heart” herinner sy die luisteraar met “Wild at Heart”, wat Lynch se gelyknamige fliek sensueel eggo.

In die titelsnit omhels sy onbeskaamd die vreemde teenstrydighede van wit, voorstedelike bevoorregting:

We laugh about nothing as the summer gets cool

It’s beautiful how this deep normality settles down over me

I’m not bored or unhappy, I’m still so strange and wild

[. . .]

What to do next? Maybe we’ll love it

White picket chemtrails over the country club

In “Dark But Just a Game” sing sy soos iemand wat uit dure ervaring weet begeerte is die verraderlikste, onweerstaanbaarste spel op aarde.

Chemtrails over the Country Club is, met ander woorde, dalk die naasbeste plaat wat Del Rey nóg gemaak het. Dink van haar outentisiteit, sedes en aanvegbare uitsprake op sosiale media wat jy wil, maar sy het so ’n unieke stem gevestig dat jy, soos die Britse musiekskrywer Alexis Petridis onlangs uitgewys het, “Lana Del Rey-esk” as ’n byvoeglike naamwoord kan gebruik. Daardie soort kulturele invloed is slegs ’n handjievol beskore.

Topsnitte:

“White Dress”

“Chemtrails over the Country Club”

“Not All Those Who Wander Are Lost”

“Yosemite”

“Dance Till We Die”

Meer oor:  Lana Del Rey  |  Danie Marais  |  Musiek  |  Rockrubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.