Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
KYK: ‘US-koor is verbysterend’ – Laurika Rauch

Die sangers Laurika Rauch en Pierre Greeff, hoofsanger van Die Heuwels Fantasties, het albei met die hoogste lof gereageer op ’n verwerking van hul liedjies wat die Universiteitskoor Stellenbosch in ’n nuwe musiekvideo sing.

André van der Merwe, sedert 2003 die bekroonde koor se dirigent, het die titelsnit op Rauch se 1992-album, Die gang, en Die Heuwels Fantasties se liedjie “Klein Tambotieboom” saamgevoeg, verwerk en as die koorwerk “Die donker” uitgereik.

’n Musiekvideo waarin al 119 lede van die US-koor die liedjie vanuit hul onderskeie huise in Suid-Afrika sing, is Donderdag op YouTube gelaai en is binne twee dae byna 52 000 keer gekyk – ook deur Rauch en Greeff.

“Dit is pragtig wat André en die verbysterende US-koor met die liedjie doen. Daar waar dit oorgaan in ‘Klein Tambotieboom’ is ’n hoendervel-oomblik vir my,” sê Rauch aan Netwerk24. Haar man, Christopher Torr, het “Die gang” oorspronklik geskryf.

“Ek is so bly om te sien hoe Chris se werk op hierdie manier tot ’n heel nuwe vlak verhef word. Die feit dat ‘Die gang’ die toets van tyd 100% deurstaan het en dit – veral nou – steeds geld en eietyds bly, spreek van Chris se genialiteit as liedjieskrywer.

“André van der Merwe – self geniaal – en die US-koor met hul suiwer stemme, het die insig en vermoë gehad om die potensiaal van die liedjie raak te sien en nuwe lewe daarin te blaas.”

Ook Greeff was oorbluf deur Van der Merwe se verwerking van “Klein Tambotieboom”, wat aanvanklik op hul 2009-album, Die Heuwels Fantasties, uitgereik is. Rauch het die liedjie ook saam met die groep gesing en op haar 2016-album, Die reis, uitgereik.

“Ek dink wat André en die koor met ons liedjie gedoen het, is fenomenaal,” het hy aan Netwerk24 gesê.

“Dit is amazing arrange en die weergawe wys net hoe amazing, powerful en buigbaar musiek is en kan wees.”

Van der Merwe het op sy beurt gesê sy en die koor se eindproduk is die eerste musiekvideo “van hierdie aard” wat hulle aangepak het. Dit was volgens hom nie ’n eenvoudige taak nie: Elke koorlid moes met ’n metronoom-klankbaan ’n video-opname tuis maak om ’n gesinchroniseerde opname te verseker. Hul video’s is toe met ’n opname van die liedjie by die Woordfees vroeër vanjaar gekombineer.

“Die Woordfees-bestuurspan – Saartjie Botha, Brechmari van Wyk en Corné Kruger – het in die vervaardiging van die video wonderlike leiding geneem en insae gelewer.

“Gerhard Roux het die klank vir ons gemeng en Regardt Visser moes die 119 video’s saam redigeer – g’n grap nie!”

Van der Merwe sê hy het die verwerking “Die donker” gedoop omdat “Die gang” en “Klein Tambotieboom” albei temas van lig en donker, asook hoop en verlange bevat.

“Dié aangrypende lirieke is so mooi geskik vir hierdie ingewikkelde tydperk waarin ons nuwe sin moet vind – en moet aanhou sing!

“Om die tema van lig uit te bring, moes elke koorlid in ’n donker vertrek opneem met een bron van lig op hul gesig: ’n lamplig, kerslig, vuur – skadu en lig. Dit veroorsaak ’n visuele flonkering wanneer al die video’s saam op die skerm is – individuele ligte wat saam harmonie skep en hoop in die donker bring.”

Van der Merwe sê hy glo nie dié tipe virtuele projekte sal ooit “organiese koorsang” vervang nie.

“Die US-koor, soos kore die wêreld oor, bevind hulleself (weens die pandemie) in ’n dilemma. Die wese van koorsang is om organies saam musiek te maak – die gemeenskap-in-die-kleine wat weekliks saam asemhaal en harmonie skep. ’n Virtuele video-projek gee ons die geleentheid om weer as ’n span te funksioneer in ’n tydperk waar ons nie fisiek bymekaar mag wees nie.

“Die projek probeer egter nie meeding met organiese koorsang nie – en dit sal dit ook nooit vervang nie – maar dit is tog ’n interessante medium waardeur ons steeds met ons gehore kan kommunikeer. Ons het steeds ’n stem en ons wil dit steeds met ons ondersteuners deel. As die lewe vir jou suurlemoene gooi, dan maak jy ’n virtuele video!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.